Verlede maand
Ryno kies Frank vir titel
TREFFER: Die blonde Cowin Ray tref Jade Karam in ’n vorige geveg.  ~ Gallo Images

DIE voormalige Suid-Afrikaanse supermiddelgewig-bokskampioen Ryno Liebenberg kies Frank Rodrigues om sy mantel op 25 September oor te neem.

Rodrigues boks dan om die vakante titel teen Cowin Ray op Golden Gloves se toernooi genaamd Triple Threat, wat oudergewoonte by Emperors Palace gehou word.

Liebenberg het onlangs van die titel afstand gedoen nadat hy ná 30 gevegte uitgetree het.

Sterk

Liebenberg sê ná sy laaste kragmeting teen Fedor Chudinov op 4 Junie in Rusland het Rodrigues hom “gesmeek en gesmeek” om van die titel afstand te doen.

“Hy wil die titel baie graag syne maak en ek glo hy sal die nuwe kampioen word.

“Rodrigues is lekker sterk en boonop boks hy aggressief,” sê Liebenberg.

Dit gaan dalk nie eenrigtingverkeer vir Rodrigues wees nie.

Ray is ’n jong en uitgeslape bokser wat ná ses gevegte steeds onoorwonne is. Hy het boonop vier van sy teenstanders uitgeslaan.

Rodrigues, daarenteen, het sewe van sy tien gevegte gewen.

In die drie gevegte wat hy verloor het, is hy twee keer uitgeslaan – eers deur Alex Kabangu en toe deur Nicholas Radley.

Ray sal waarskynlik vroeg druk op Rodrigues probeer sit deur die geveg vanuit die staanspoor te probeer dikteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters