Verlede maand
Rygersdal sal moet oppas
Gershawn Coetzee  ~ Foto’s: MARK WARD

OM DIE uitslag van ’n eindstryd te voorspel is soos om die Lotto te speel, want statistieke en rekords storm by die stadion se hekke uit wanneer die fluitjie blaas en die wedstryd begin.

En wanneer Rygersdal en Dynamos môre in die eindstryd van die 24ste Coca- Cola Cup in Belhar uitstap, sal dit weer die geval wees.

Rygersdal het dié gesogte beker al in 2006 en 2017 gewen, maar die geskiedenis gaan nie veel in dié stryd tel nie.

Gershawn Coetzee, afrigter van Rygersdal, is deeglik bewus dat sy span as gunsteling uitdraf.

“Hokaai, hokaai. Dit mag so voorkom, maar Dynamos is ’n onbekende krag. Daar moet egter onthou word dat hulle ’n waardige finalis is.

“Die span is gelaai met ervare spelers en dit gaan ’n baie interessante stryd wees,” het Coetzee gesê.

Rygersdal moes in die vorige rondes diep delf om eers Hanover Park (kwarteind) en toe Woodlands (halfeind) uit te skakel. Dit is dié spanne wat in die vorige eindstryd kragte gemeet het, met Woodlands wat as kampioen gekroon is.

Toeskouers sal môre vir die eerste keer weer by wedstryde toegelaat word.

Mthuthuzeli Matshabane, breier van Dynamos, sê met fans in die stadion gaan sy span beslis ’n voordeel geniet.

“Ons is baie opgewonde oor ons verskyning in die eindstryd. Die fans gaan ons beslis nog verder aanspoor.

“Rygersdal is beslis ’n baie goeie span en is gelaai met ervare spelers wat ek goed ken. Maar ek is daarvan oortuig dat ons oor die nodige skills beskik om die toernooi te wen,” het Matshabane gesê.

Die span van Lwandle in die Strand het Juventus en Clover onderskeidelik in die kwart- en halfeindronde uitgeskakel.

Matshabane en sy span het verlede week ook die Helderberg LFA se ligatitel gewen en vroeër ook die Top8-kroon gelig.

“Nou vir die driekuns,” het hy met ’n breë glimlag bygevoeg.

Coetzee, wat die leisels van Rygersdal in 2018 oorgeneem het, sê hy is passievol oor afrigting.

“Afrigting is meer as net ’n toets wat op die veld uitgespeel word.

“My filosofie is eenvoudig. Ek probeer om met alles wat ek doen ’n verskil in ander se lewens te maak,” het Coetzee bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters