2 maande gelede
Rusten kry oproep na spele-span
Rusten Abrahams  ~ Gallo Images

TOKIO. – Rusten Abrahams was aangenaam verras toe hy Sondag die nuus kry dat hy by die Suid-Afrikaanse hokkiespan vir die Olimpiese Spele in Tokio ingesluit is.

Die 23-jarige is ter elfder ure by die span ingesluit nadat drie spelers hulle weens beserings en Covid-19-protokolle moes onttrek.

Abrahams het Donderdag by sy aankoms op die Narita-lughawe in Tokio aan Son gesê: “Ja, ek was uiteraard in my noppies, want dit het as ’n groot verrassing gekom. Ek was nog besig om te werk en voor te berei vir my volgende toernooi toe ek uit die bloute in kennis gestel is.

“Om laat opgeroep te word is regtig ’n geweldige eer vir my. Dit voel nog vreemd om hier te wees.”

Abrahams het hokkie begin speel toe hy ’n gr. 2-leerder aan die Laerskool Huttenpark in Newcastle in Durban was. Hy het daarna Johannesburg toe getrek waar hy in gr. 7 die span van Suid-Gauteng gehaal het. Ná skool het hy gaan swot aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy al ses jaar speel en studeer.

Hy is tans besig om sy graad in sielkunde te voltooi en werk ook as intern in ’n biokinetikus se praktyk.

“Ek het my debuut vir die Suid-Afrikaanse hokkiespan in 2017 teen Engeland gemaak. Daar is tans net 19 plekke in die hokkiespan wat die land op die Spele kan verteenwoordig. Dit sluit drie plaasvervangers in wat saam reis. Drie spelers moes hulle om verskeie redes onttrek en dit is waarom ek nou myself hier bevind,” het hy verduidelik. “Ek is goed vertroud met die span en het al voorheen saam met die Cassiem-broers, Mustapha en Dayaan, gespeel op die Afcon-byeenkoms toe ons vir die Spele gekwalifiseer het.

“Suid-Afrika is in ’n moeilike groep geloot, maar wanneer jy met mense praat wat reed op ’n Spele was, sal hulle jou sê daar is geen maklike games nie.

Geskiedenis

“Ons sal dus baie hard moet veg om die regte uitslae te kry. Ek dink as ons op ons beste is en as ’n span saam trek, sal ons beslis geskiedenis kan maak om die top-10 te haal.

Suid-Afrika se veldtog in groep B begin môre teen Brittanje.

Sondag kom hy teen Nederland te staan. Hy pak ook België, Duitsland en Kanada.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters