12 dae gelede
Rugbyman verloor pa kort ná ma
Jan Baardman  ~ Foto Verskaf

HENNIE Baardman, president van die Suidwestelike Distrikte-rugbyunie, het binne net meer as twee weke beide sy ouers aan Covid-19 afgestaan.

Baardman het bevestig sy pa, Jan (72), het Vrydag 8 Januarie aan Covid-19 gesterf.

Sy ma, Maria (69), is op 22 Desember ook aan die virus dood.

Baardman het sy pa beskryf as ’n rolmodel en gemeenskapsmens en ’n politieke aktivis van die United Democratic Movement en ANC.

Hy was ook jare lank ’n vurige ondersteuner van die Bridgton-rugbyklub en die destydse Perseverance.

Hy het egter nooit poste in die rugbystrukture beklee nie.

Kerkraad

Volgens Hennie was sy pa ’n afgetrede algemene voorman by Eljada-Kairos Skool vir Gestremdes in Oudtshoorn.

Hennie sê: “My pa het meer as 40 jaar in die kerkraad (VGK) gedien en hy was aktief betrokke in die Bridgton Civics-organisasie. In die politiek het hy met dr. Allan Boesak, wyle David Piedt en Reggie Oliphant geloop.

“Hy was ’n vakbondlid en deel van die strukture van Sactwu en Nehawu.”

Die begrafnis vind dié Donderdag vanuit die Baardman-woning plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters