Verlede maand
Rugbyliga-ster op bank vir Reds
Suliasi Vunivalu  ~  Getty Images

DIE Queensland Reds is uiteindelik gereed om hul rugbyliga-ster dié naweek in die Superrugby AU-kompetisie los te laat.

Suliasi Vunivalu, wat laasjaar al deur Dave Rennie (hoofafrigter van Australië) by die Wallabies betrek is, is op die plaasvervangerbank ingesluit vir môre se wedstryd tussen die Reds en die Melbourne Rebels.

Kragmeting

Dié voormalige Melbourne Storm-rugbyligaspeler moes laas week se eersteronde-wedstryd teen die Waratahs uitsit omdat hy laas maand na bewering ’n veiligheidswag in die gesig geslaan het.

Vunivalu moet nog in April in die hof verskyn oor dié voorval met die wag, maar Brad Thorn (Reds-afrigter) het geen probleem daarmee gehad om hom in sy 23-tal te kies vir môre se krag­meting nie.

“Dis goed om hom dié week betrokke te hê en natuurlik het ons gehoop dit kon al laas week so wees,” het Thorn gesê.

Verneder

“Hy is besig om vir Vrydag voor te berei en ek dink daar gaan baie mense wees wat opgewonde gaan raak om te sien wat hy kan bring.”

Die Reds het ’n goeie begin in Superrugby AU gemaak deur die Waratahs laas week met 41-7 te verneder.

Thorn sê as Vunivalu vir dié wedstryd beskikbaar was, sou hy hom in elk geval ook as ’n plaasvervanger ingespan het.

“Dis beslis hoe ek daarvan hou om dinge te doen as iemand van ’n besering terugkeer of nuut in die span is. Dit haal die druk af,” het hy verduidelik.

“Daar moet ook onthou word dat daar manne soos Jordan Petaia en Filipo Daugunu is. Dan is daar ook Hamish Stewart en Hunter Paisami. Jy het ook Jock Campbell wat agterlangs speel. Dit is nie net ’n lys waar iemand net kan instap en verwag om te speel nie, of hoe?”

REDS: Dane Zander, Alex Mafi, Taniela Tupou, Angus Blyth, Seru Uru, Angus Scott-Young, Fraser McReight, Harry Wilson, Tate McDermott, James O’Connor (k), Filipo Daugunu, Hamish Stewart, Hunter Paisami, Jordan Petaia, Jock Campbell. BANK: Josh Nasser, Harry Hoopert, Feao Fotuaika, Ryan Smith, Sam Wallis, Moses Sorovi, Bryce Hegarty, Suliasi Vunivalu.

REBELS: Cabous Eloff, Jordan Uelese, Pone Faamausili, Steve Cummins, Trevor Hosea, Brad Wilkin, Richard Hardwick, Michael Wells, Joe Powell, Matt To’omua (k), Marika Koroibete, Reece Hodge, Stacey Ili, Lachlan Anderson, Tom Pincus. BANK: Ed Craig, Isaac Aedo Kailea, Rhys van Nek, Rob Leota, Josh Kemeny, James Tuttle, Glen Vaihu, Frank Lomani.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters