5 dae gelede
Rugbybaas bring hulde aan ’n reus
Mark Alexander  ~ Gallo Images

MARK Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het gister hulde gebring aan die voormalige Saru-kaptein Ebrahim “Popeye” Rinquest.

Rinquest is gisteroggend in die ouderdom van 86 oorlede. Popeye, soos hy alombekend was, was die oudste lewende Saru-kaptein.

Hy het die Saru-span van 1957 tot 1965 verteenwoordig, toe hy ook as kaptein aangewys is.

“Ebrahim was een van die sterkste stutte wat vir die Saru gespeel het.

Hy was nie net ’n natuurlike leier nie, maar was ook ’n baie nederige persoon,” het Alexander gister gesê.

Gekies

“Rinquest was ’n legendariese oud-speler, wat ook sy klubspan, Hamediehs, na ’n aantal titels gelei het. Hy was slegs 21 jaar oud toe hy die eerste keer vir die Westelike Provinsie gespeel het.

Die WP het die Rhodes Cup in Kimberley in 1957 gewen. Dieselfde jaar is hy vir die eerste keer vir die Saru-span gekies.

“As ’n voormalige nasionale speler moet sy rol in die geskiedenis van die spel in Suid-Afrika geëer word.

Ons gee erkenning aan wat hy vir rugby in ons land gedoen het – in ’n tyd toe die topvlak van die spel nie toeganklik vir almal was nie.

Dit moet egter nie afbreuk doen aan die groot nalatenskap wat Ebrahim los nie.

Ons gedagtes en gebede is by sy familie, vriende en geliefdes in die moeilike tyd, maar hy laat wonderlike herinneringe agter.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters