Verlede maand
Rugby is in sy bloed
Erekleure: Jack Juries met sy Springbok-baadjie wat in 2013 aan voormailige SA kapteins in George oorhandig is.  ~ Verskaf

DIE resep vir sukses op die sportveld is om God in alles erkenning te gee en Hom eerste te stel – dan sal alles in jou guns swaai.

Dít is hoe die 78-jarige Jack Juries van Groot-Brakrivier sy sukses as rugbyspeler beskryf.

Almal het hom herken aan sy wit skrumpet waarin hy oral op die veld opgeduik het.

Hy was 14 jaar die agtsteman van die Proteas wat destyds onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie gespeel het.

Voordat hy sy buiging vir die Proteas gemaak het, was hy lid van die gedugte Good Hope-rugbyklub van Groot-Brakrivier en die SWD­Federasie.

Dié spanne het veral die Kaapse rugbymanne harde bene in provinsiale wedstryde laat kou en ook in die Suid-Kaapse klubkompetisies hul stempel afgedruk.

Juries het meer as 200 wedstryde vir Good Hope gespeel. Hy is ook in 2013 saam met ’n aantal ander kapteins van SA rugbyspanne in George vereer.

Juries se liefde vir rugby het by die Laerskool Groot-Brakrivier begin, danksy sy onderwyser Clifford Jacobs.

Dié onnie het ’n groot invloed op sy rugbyloopbaan gehad en hom aangemoedig om die spel tot die hoogste vlak te vat.

Hy het as 16-jarige in 1959 sy debuut op vleuel vir Good Hope gemaak, maar later op nasionale en provinsiale vlak sy stempel as agtsteman afgedruk.

Kaalvoet

“Ek het in Tannery Kloof grootgeword en ons was net ’n groot gemeenskap wat in almal se lief en leed gedeel het. Ek het kaalvoet skool toe geloop, want daar was nie geld vir skoene nie.

“Die meeste mense van Tannery Kloof het by die Watson-skoenfabriek gewerk. Ek het eers in 1974 na my huidige tuiste in Greenhaven verhuis,” vertel hy.

TOETS: Dougie Dyers lei die Proteas in 1971 in Engeland op die veld, met Jack Juries in sy kenmerkende wit skrumpet agter hom. Foto: Verskaf

Sport was maar altyd in sy bloed en op skool het hy en sy vriende aan krieket, hokkie en tennis deelgeneem. Hulle het hul eie krieketkolwe en rugbyballe gemaak en die tennisbaan is sommer met chalk op die teerpad getrek.

Juries het op 15 gaan werk omdat daar geen hoërskool in Groot-Brakrivier was nie. Hy het so 13 jaar by die Watson-fabriek gewerk.

Hy het ook sewe jaar vir die polisie gewerk en het die laaste vyf jaar voor sy aftrede op 65-jarige ouderdom, weer by die fabriek gaan werk.

“My rugbyloopbaan op provinsiale vlak het in 1960 as stut begin toe ek die SWD in Mosselbaai teen die Boland verteenwoordig het.

“Ons het die wedstryd gewen en dit was die begin van my 18 jaar as provinsiale, nasionale en internasionale speler van Groot-Brakrivier.

“In die wedstryd het een van die Protea-keurders gevoel ek is te beweeglik vir ’n stut en dat ek liewer agtsteman moes speel. Ek het toe nooit weer van posisie verander nie.

“My eerste toets vir die Proteas het ek in 1964 teen die SA Leopards op City Park gespeel. Dit was die eerste van ’n lang tweestryd tussen ons wat van 1964 tot 1978 gestrek het.

“John ‘Jaap’ Bekkers van die Strand was die kaptein en ons het by die Landdrost-Hotel in Lansdowne bymekaargekom.

“Ek het my eerste drie vir die Proteas gedruk en ons het net-net met 14-13 gewen. Noortjie Khan van die WP-Rugbyunie van die Groenpunt-baan was die referee en Harold Kruger van City and Suburban was die spanbestuurder.

“Destyds het ons almal nog saam en teen mekaar gespeel. Ná 1971 het die Suid-Afrikaanse Kleurling-Rugbyunie (later Saru) die ras-titel gedrop. Dié organisasie het toe geweier om teen die SA Bantoe-Rugbyunie (later SA Rugbyvereniging), ook bekend as die Leopards, te speel. Dit was omdat die Leopards saam met die Federasie besluit het om aan die kompetisies van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyraad van dok Danie Craven deel te neem.

Leeus

“Ek het in 1971 my internasionale debuut teen Engeland gemaak. Daarna het ek ook teen Rhodesië (nou Zimbabwe), Nederland in Amsterdam, Ponsonby van Nieu-Seeland (1973), die Britse Leeus (1974), Frank­ryk (1975), die All Blacks (1976) en ook in 1974 teen die Llanelli-toerspan van Wallis as agtsteman uitgedraf.

“Ek het altesame 27 ‘toetse’ teen die Leopards gespeel en was die kaptein in wedstryde teen Engeland, Frankryk en die All Blacks nadat Dougie Dyers in 1974 uitgetree het.”

TROTS: Die Proteas-span wat in 1972 teen Engeland in die Athlone-stadion gespeel het. Jack Juries staan links agter. Foto: Verskaf

Dyers het toe op afrigting gefokus.

“In 1978 het ek uit internasionale rugby getree toe die Federasie ophou bestaan het. Ek het toe weer tot 2000 klubrugby vir Good Hope en SWD gespeel – tot die ouderdom van 60.”

Benewens Bekkers het hy ook onder die kapteinskap van Millin Petersen, Charles Muller en Dyers gespeel.

Sy seun Jacques is tans die afrigter by die Griffons en is ’n voormalige SWD- en Pumas-speler. Sy kleinseun Jaywin het ook in sy voetspore gevolg en twee jaar vir die Sharks gespeel.

“Die grootste gedeelte van my lewe het ek aan rugby gewy en rugby was baie goed vir my. Maar nou in my herfsjare gee ek al my aandag aan my familie, wat lank sonder ’n pa en man moes klaarkom, terwyl ek teen die bestes op die rugbyveld my vaardighede getoets het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters