Verlede maand
Roux, Nebe boks dalk
PEPER HOM! Juan Roux moker ’n slaansak in ’n gym-sessie.  ~ Foto Verskaf

’N STERK moontlikheid bestaan dat die Kaapse swaargewigbokser Juan Roux in Desember vir ’n geveg teen Wilhelm Nebe deur die toue kan klim.

Roux is ná vier gevegte onoorwonne terwyl Nebe onlangs sy eerste nederlaag in ses gevegte gely het toe Josh Pretorius hom met punte geklop het.

Roux en Nebe word albei hoog aangeslaan en hulle kan nie langer van mekaar weggehou word nie.

Roux sal uiteraard sy onoorwonne rekord wil behou. Nebe sal op sy beurt daarop uit sal wees om te wys hy het lesse geleer in sy nederlaag teen Preto­rius.

Rampspoedig

’n Oorwinning oor Nebe sal Roux se aandele laat styg en die weg vir groter gevegte vorentoe baan.

Dit kan egter ’n ander Nebe wees wat dié keer in die kryt klim, want ’n tweede agtereenvolgende nederlaag vir die Potchefstroomse reus sal rampspoedig wees.

Golden Gloves se promotor, Rodney Berman, kan binnekort sy finale program bekend maak en dit sal ’n verrassing wees as Roux en Nebe nié teenstanders is nie.

Berman sê hy wil boksers beloon wat groot veggees aan die dag lê.

Daarom beplan hy ook om Pretorius weer ’n kans te gee – dié keer teen Keaton Gomes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters