2 maande gelede
#KYK: Roses wys hulle dorings
Mooi, manne: Coach Franzel September praat met sy Roses-span. Foto: Anver Abrahams  ~ 

ROSES United het Saterdag sy aanspraak op die Top-12 verstewig toe hy Hillcrest United in ’n Bolandse Groot Uitdaag-derby op Newton Park met 46-20 verslaan het.

Die Rose was gans te sterk vir Hillies. Sy stryd met Bella Vista om die tweede plek in die Wit-Sentraal-streek raak elke week meer intens.

Hamlet het reeds die streektitel in die sakkie. Bella Vista en Roses mol nog vir die ander plek in die Top-12.

Roses het vroeg in die wedstryd reeds sy bonuspuntdrie verdien ná skitterende samespel tussen die voor- en agterspelers.

Die vleuels Heini Isaacs en Bjorkan Hendricks het veral in dié tydperk geskitter.

Veg

Voorlangs was die agsteman Thurlow Marsh ’n reus in die lynstane, terwyl Hyco Jacobs (flank) met sy inklimspel beïndruk het.

Hillies verdien egter vermelding vir die manier hoe hy aanhou veg het, al was hy deurgaans met die rug teen die muur.

Dylan Maart, wat gewoonlik vleuel speel, het dié keer op buitesenter uitgeblink.

Marsh was ná die wedstryd ’n tevrede man en het gesê: “Ons het geweet dit gaan ’n fisieke wedstryd wees.

“Ons het geweet waar ons staan en wat ons moet doen om ’n Top-12-posisie te verseker.”

Geoffrey Allies, agsteman en kaptein van Hillies, was vol lof vir Roses ná die game.

“Well done aan Roses en hulle coaching staff. Hulle het vandag met ’n plan gekom en dit goed uitgevoer. Ek is steeds trots op my boys.” 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters