9 dae gelede
Rocco goed op dreef vir Tokio-spele
Rocco van Rooyen  ~ Gallo Images

ROCCO van Rooyen het gister sy uitstekende peil in die spiesgooi vir mans gehandhaaf.

Die 28-jarige atleet van die Bellville-atletiekklub het met nog ’n puik vertoning in die spiesgooi vir mans in Turku, Finland, vorendag gekom.

Die Suid-Afrikaanse kampioen het die bronsmedalje gewen op ’n Goue Byeenkoms van Wêreldatletiek se Kontinentale Toer. Sy afstand was 82,55 m.

Die Pool Marcin Krukow­ski, ’n voormalige Europese kampioen, se nuwe nasionale rekord van 89,55 m was meer as genoeg vir die eerste plek.

Die Olimpiese kampioen in 2012 en bronsmedaljewenner in Rio de Janeiro in 2016, Keshorn Walcott, van Trinidad en Tobago, was die naasbeste met 82,84 m.

Van Rooyen het al verder as 87 m in sy loopbaan gegooi.

Hy het ná die SA byeenkoms in Pretoria aan Son gesê dat sy voorbereiding vir die Olimpiese Spele baie goed verloop.

Deel van sy voorbereiding is om goed in Europese kompetisies te vaar.

Hy hoop om sy momentum geleidelik by die byeenkoms op te bou en is tans goed op dreef om sy beste peil vir vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio in Japan te bereik.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters