3 maande gelede
Robertson: Oud-breier terug
Aldridge Mercuur  ~ Mark Ward

ALDRIDGE Mercuur het na die geledere van die Robertson-rugbyklub teruggekeer – dié keer as hoofafrigter.

Mercuur, ’n gebore en getoë Robertsonner, het al voorheen as voorsitter van dié klub gedien. Hy het die span ook van 2000 tot 2002 afgerig en het dié pos weer in 2013 beklee.

Hy neem die pos oor by Henley du Plessis, wat hom onlangs by die Cheetah-akademie in Bloemfontein aangesluit het.

Ofskoon Mercuur nie veel oor sy planne vir 2021 bekend wou maak nie, het die klub se voorsitter, Lionel Hendricks, egter prontuit gesê hy wil die Boland se Premierliga-titel volgende seisoen in die Langeberg sien.

Mercuur is ’n baie ervare breier en was op ’n tyd Harry Viljoen se hulpafrigter by die Western Stormers in 1997 en het ook die SA Skole in 2010 afgerig.

Hy was in 2018 aan die stuur toe Villagers Worcester die Bolandse Premier­liga-titel gewen het.

Vakante

Allen Williams en Heino “Haas” Warnich sal hom bystaan.

Warnich, wat vir die Pukke uitgedraf en ook in Engeland klubrugby gespeel het, is ’n baie ervare coach.

Hendricks sê aan Son net die vakante poste is gevul, terwyl die res van die afrigterskorps dieselfde bly.

Volgens die grootbaas het die bestuur ook ’n besluit geneem dat die eerste en tweede spanne in die toekoms deur dieselfde afrigters afgerig sal word.

“Dit word gedoen om kontinuïteit te bewerkstellig.

“Dit maak dit makliker vir die spelers uit die tweede span om die step-up te maak.”

Die klub het ook besluit om ontwikkeling in die streek ’n hupstoot te gee deur ’n o. 20-span op die been te bring wat deur Williams­ afgerig sal word.

“Dit word gedoen om ons jong spelers vroeg te identifiseer, asook om aan hulle gereeld ’n speelkans te gee.

“Indien Covid-19 ons toelaat om vroeg in 2021 te speel, wil ons graag van klubs verneem wat o. 20-spanne het om vriendskap­like wedstryde te speel, al moet ons ook weeksaande speel,” sê Hendricks.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters