8 maande gelede
Rito reg vir rol
Rito Hlungwani  ~ Adnaan Mohamed

RITO Hlungwani stap al ’n ver pad in rugby in die Westelike Provinsie.

Dit was altyd die lenige slot se droom om die Streeptruie ná sy speeldae af te rig.

En nou gaan hy uiteindelik ’n kans kry om sy slag in die rol van voorspeler-afrigter van die Stormers in die Superrugby-reeks te bewys.

Hlungwani is ’n lid van John Dobson se nuwe afrigtingspan.

Hy het gister by die Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville oor sy rol gepraat.

“Ek het deur die klubstrukture gekom waar ek by Villagers Rugbyklub in die Superliga A begin het. By die WP Instituut het ek met die o. 19-spelers begin werk.

“Hierna was dit o. 21 en toe die SuperSport Chal­lenge. Nou is ek in die big league by Superrugby.”

Hlungwani sien veral uit daarna om saam met die Stormers se ervare World Cup-sterre soos Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe en die jonger spelers te werk.

“Dit is opwindend, want dit is uiteraard heeltemal ’n ander environment. Jy moet net ’n bietjie meer voorberei sodat jy skerp kan wees.

“So, dis exciting, maar terselfdertyd is dit uitdagend.”

Hlungwani se styl is om almal te betrek.

“Ek glo twee minds is altyd beter as een. Almal weet ons het ’n baie ervare pak voorspelers. Jy kan nie ’n situasie hê waar ek net dikteer en alles preek nie.

Potensiaal

“Ek moet ’n omgewing skep waar almal ’n bydrae kan lewer. Op ’n manier wil ons graag ’n kollektiewe mindset van uitnemendheid skep.

“Ek dink as ek dit na die tafel kan bring, sal ons die ongelooflike potensiaal van die spelers ten volle kan benut,” voeg hy by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters