Verlede maand
Reputasie op die spel
INDRUKWEKKEND: George Linde was tot dusver SA se beste speler.  ~ Gallo Images

DIE Proteas se krieketspan het tans so min balans soos ’n besope persoon wat probeer regop loop.

Suid-Afrika sal dus ’n haas uit die hoed moet pluk as hy vandag op Nuweland die laaste T20 teen Engeland wil wen.

Die toerspan het reeds ’n reeksoorwinning beklink met oorwinnings Vrydag op Nuweland en Sondag op Bolandpark.

Quinton de Kock (kaptein) en Mark Boucher (afrigter) sal dus desperaat wees om vanaand met ’n sege ’n bietjie aansien te herwin.

Die middelkolwer David Miller en veelsydige Andile Phehlukwayo was tot dusver nie beskikbaar nie.

Beide De Kock en Boucher sal hoop dat een of albei hierdie Durbaniete vandag sal kan speel.

Miller sal broodnodige plofkrag aan die middel­orde verskaf, terwyl Phe­hlukwayo se vermoë om paaltjies te vat, gemis word.

Hy is boonop ’n baie bruik­bare kolwer wat op nommer 7 of 8 in die kolflys kan instap.

Die keurders kan ook oorweeg om óf Janneman Malan óf Jon-Jon Smuts die kolfwerk saam De Kock te laat open. Temba Bavuma sal dan in die slag bly.

Glenton Stuurman, Junior Dala en Lutho Sipamla sal ook hoop om ’n kans te kry om hul slag te toon, hoewel Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Anrich Nortjé waarskynlik die snel-trio sal wees.

Indien Miller fiks is, kan hy een van Rassie van der Dussen of Heinrich Klaasen vervang, maar Phehlukwayo se insluiting ten koste van die indrukwekkende George Linde kan ondersteuners van laasgenoemde omkrap. Hy was tot dusver die beste van die Proteas en gaan homself definitief ongelukkig kan ag indien hy weggelaat word.

Wenkbroue

Die span se boulwerk aan die einde van Engeland se kolfbeurte laat tans veel te wense oor. Die Engelse, met hul ellelange kolflys, stuur die tuisspan se kartetse met betroubare reëlmaat na en oor die grenstou.

Linde en Tabraiz Shamsi, die span se spin twins, het hulle tot dusver goed van hul taak gekwyt. Die wenkbroue sou glad nie gelig het as Keshav Maharaj óók op die stadige baanblad in die Paarl gespeel het nie.

Die eerste bal op Nuweland word om 18:30 geboul.

PROTEAS: Quinton de Kock (k), Temba Bavuma, Junior Dala, Faf du Plessis, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks,­ Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George­ Linde, Keshav Maharaj, Janneman Malan, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile­ Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Jon-Jon Smuts, Glenton Stuurman, Pite van Biljon, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne.

ENGELAND: Eoin Morgan (k), Jason Roy, Jonny Bairstow, Jos Buttler, Moeen Ali, Jofra Archer, Sam Billings, Sam Curran, Tom Curran, Chris Jordan, Dawid Malan, Adil Rashid, Ben Stokes, Reece Topley, Mark Wood.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters