8 dae gelede
Relegasiespook loer reeds vir Spurs én Stars
OPWAARTS: CT Stars se Eleazar Rodgers oorheers sy teenstanders van Pretoria Callies Saterdag op Parow Park.  ~ _BACKPAGEPIX

DIT is nie mooi om ’n span ná slegs drie wedstryde af te skryf nie, maar indien Cape Town Spurs nie vinnig rigting kry nie, gaan hy weer in die relegasiemoeras beland.

Twee punte uit ’n moont­like nege is genoeg om nou reeds die gevaarligte te laat flikker, veral met ’n geskiedenis soos Spurs s’n waar hulle gedurig battle om te survive.

Dit blyk hierdie seisoen dieselfde storie te wees.

Coach Dylan Deane en sy tegniese span sal vinnig met ’n blueprint vorendag moet kom om te keer dat daar weer dié seisoen ’n relegasiestryd gaan wees.

Spurs het Sondag in Brakpan met 0-0 teen Jomo Cosmos gelykop gespeel.

Dit is egter glad nie ’n slegte uitslag vir die Kapenaars nie.

Cosmos staan nie maklik punte op sy tuisveld af nie. Dit gaan egter nou belangrik vir Deane-hulle wees om op dié vertoning te bou.

Dié punt is slegs die tweede punt wat die span van Parow dié seisoen kon insamel. Spurs beklee die tweede laaste plek op die punteleer.

Spurs se ondersteuners het reeds begin sweet as daar gekyk word na die boodskappe in die sosiale media.

Snaaks genoeg was die Kaapse span dié seisoen baie aktief in die transfer market.

Spurs se buurspan Cape Town All Stars sal ook vinnig ritme moet kry.

Dié span beklee tans die 11de posisie op die punteleer.

Stars het Saterdag op Parow Park ook erg teleurgestel en met 0-0 teen Pretoria Callies gelykop gespeel.

Roger de Sá, afrigter van CT Stars, neem Saterdag sy span Pretoria toe vir ’n wedstryd teen JDR Stars.

De Sá sal waarskynlik tevrede wees indien CT Stars met ’n punt uit dié wedstryd na die Moederstad kan terugkeer.

Spurs verwelkom Uthongathi Vrydag op Parow Park vir sy volgende liga-stryd. Die Kaapse elftal móét eenvoudig dié stryd wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters