2 maande gelede
Rekord vir netbal
Gewild: Altesaam 800 spelers het aan die Madibaz-toernooi deelgeneem. FOTO verskaf  ~ 

DIE jaarlikse Madibaz-netbaltoernooi is die afgelope naweek op die Nelson Mandela-Universiteit se Suid-kampus deur ’n rekord van 80 spanne bygewoon.

Die tweedaagse toernooi het vroue- en manspanne gehad wat die spelers in die Oos-Kaap ’n perfekte kans gee om hulle kragte vroeg in die seisoen teen die res van die land te toets.

Atmosfeer

Madibaz-netbal se bestuurder, Melinda Goosen, het gesê die geleentheid vir sommige spanne om binnenshuis te speel en die aktiwiteite wat rondom die geleentheid geskep is, het bygedra tot die toenemende gewildheid daarvan.

“Elke jaar se sukses maak dat nuwe spanne ons Madibaz magic wil beleef,” sê sy.

“Vanjaar was daar 800 spelers wat aan die toernooi deelgeneem het in verskeie afdelings. Dit het ’n wonderlike atmosfeer geskep.”

Sy het bygevoeg dat die groei van die geleentheid ’n aanduiding is van hoe honger die Oos-Kaapse gemeenskap vir die sport is.

“Eerstens gee dit afrigters die geleentheid om hulle spanne se vermoëns te toets terwyl hulle voorberei vir die komende ligas.

“Tweedens het diegene wat dit bygewoon het – veral skolespelers – ’n idee gekry van wat dit is om deel te wees van die Madibaz-netbal-opset. Dit sal hulle aanspoor om by ons aan te sluit wanneer hulle skool verlaat.”

Die toernooi het die krag van netbal by Madibaz beklemtoon, met hulle spanne wat die meeste van die afdelings gewen het.

Die enigste afdelings wat die universiteit nie gewen het nie, was die B- en mansafdeling.

Goosen sê hulle sukses wys die hoë vlak van netbal by die Madibaz. – Full Stop Communications

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters