4 dae gelede
Reeza nou wêreldklas
kanonkolf: Reeza Henricks maak die Cape Town Blitz se boulers mismoedig.Foto: gallo images  ~ 

VERGEET ’n oomblik die razzmatazz van die Mzansi-Superliga en fokus op die goeie krieket.

Reeza Hendricks se ongelooflike kolfvertoning in dié kitsreeks het selfs die wêreld se voorste T20-kolwer, Chris Gayle, gaande.

Hendricks het Dinsdag op Nuweland 79 lopies in die Jozi Stars se sege van 50 lopies oor die Cape Town Blitz aangeteken.

Hy is nou met 346 lopies ná net vyf beurte die voorste lopievraat in die kompetisie.

Hendricks het ook ’n paar veilige hande, want hy het reeds vyf vangkanse benut.

Gayle het vroeër dié week gesê daar moenie nog ’n groot bohaai oor sy toetrede tot die toernooi gemaak word nie, want die Jozi Stars het reeds ’n groot ster.

Gayle sê: “Reeza is ’n internasionale speler wat hom bewys. So, moenie op my fokus nie – fokus eerder­ op hom.”

Die Blitz se Janneman Malan het met 279 lopies die tweede meeste lopies aangeteken en sy spanmaat Quinton de Kock met 228 lopies die derde meeste.

Hulle vertonings dra grootliks by tot die opwinding van die reeks.

Die doemprofete sal hulle pessimisme nou maar in optimisme­ moet verander, want dié kompetisie het ongetwyfeld alle verwagtinge oorskry. En môre kan weer vuurwerk op Nuweland verwag word. Die Blitz en Paarl Rocks pak mekaar dan.

’n Sege vir die Blitz sal vir hulle ’n plek in die uitspeelrondes verseker, terwyl die Rocks hulle kanse met maksimum punte lewend kan hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters