9 dae gelede
Reds-verval duur voort
vat So! Richarlison teken Everton se eerste doel aan. Foto: reuters  ~ 

MET ’n vierde nederlaag op Anfield is die Engelse Premierliga-kampioen, Liverpool, op koers om ’n ongewensde rekord te verbeter.

Liverpool het in 1923 laas vier tuiswedstryde in ’n ry verloor en is die eerste top-flight-span sedert Everton in die 1928-’29-seisoen wat vier in ’n ry tuis verloor het.

En asof die noodlot dit so wou hê, was dit Liverpool se einste Mersey­side-buurspan wat Saterdag met ’n sege van 2-0 vir die Reds se vierde tuisnederlaag kom sorg het. Die Toffees het met dié sege vir die eerste keer in 20 probeerslae koning gekraai in ’n Merseyside-derby.

Vir Liverpool beteken dit sy veldtog om dié seisoen ten minste onder die topvier-klubs te eindig, word nou ál hoe moeiliker. Enige iets laer as topvier sal beteken dat hy nie in die 2021-’22-seisoen se Uefa Champions League sal kan speel nie.

Dis egter alombekend dat die Reds hierdie seisoen invloedryke spelers weens hardnekkige beserings verloor het. Dis veral op die verdediging waar dié span sukkel in die afwesigheid van Virgil van Dijk.

Maar die Reds se middelveldspeler Georginio Wijnaldum voel dit sal onregverdig wees om slagoffer te speel as hy en sy spanmaats nog dinge kan beredder.

Positief

Wijnaldum het ná Saterdag se stryd gesê: “Ons het nog drie stryde oor om dinge om te draai. As ons soos slagoffers na die situasie gaan kyk, gaan dit vererger.

“Wat ons kan doen, is net om te probeer om alles te gee om positief te bly. Ons moet almal saamwerk vir ’n beter einde. Jy wil nie selfbejammering toon en ingee deur die rol van ’n slagoffer te speel nie.”

Intussen het Everton se manager, Carlo Ancelotti, gou praatjies probeer stopsit oor sy span se kanse om volgende seisoen vir die Champions League­ te kwalifiseer.

Ancelotti meen sy span moet eers leer om bestendig te word en ook belangrike tuiswedstryde te wen.

“Topvier Nee. Nee, wag,” het hy gesê. “Ons moet eers meer bestendig word by die huis. Tans werk ons daaraan.

“Ons veg vir ’n plek in Europa en nou is ons in ’n goeie posisie. Dié soort vertoning help met die span se selfvertroue.”

Ancelotti het gesê die oorwinning is ’n geskenk vir Everton se ondersteuners.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters