4 dae gelede
Reds soek Super Cup
JüRGEN KLOPPFoto’s: GETTY IMAGES  ~ 

DEJAN Lovren se moontlike skuif weg van Liverpool is die groot nuus in die aanloop tot vandag se Super Cup final­ teen Chelsea in Istanbul.

Lovren is weens griep nie in die Reds se groep vir vandag se skouspel nie.

Dié Kroatiese verdediger word sterk gelink met ’n skuif weg van Anfield af.

Klubs soos Roma is glo voor in die koor om sy handtekening te kry.

Liverpool het reeds ’n bedrag van £20 miljoen (sowat R365 miljoen) op Lovren se kop gesit.

Intussen het Liverpool se bestuurder, Jürgen Klopp, aan sy spelers voorgehou hulle moet “gulsig” wees vir sukses wanneer hulle teen die Blues uitdraf.

Dis die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie dat twee Engelse spanne in die eindstryd meeding.

Liverpool, die huidige Champions League-wenner, sal graag sukses wil behaal nadat hy laas week sy eerste Community Shield final teen Manchester City verloor het.

Dis waarom Klopp gretig is om vandag se eindstryd teen die ander Engelse span te wen.

Verloorkant

“Bly gulsig en probeer alles wen,” het Klopp aan die spelers uitgewys.

“Dit is belangrik, as jy my vra. Die Super Cup is ’n final waarvan ek nie baie gehou het nie, want ek was altyd aan die verloorkant,” het Klopp bygevoeg.

“Die Super Cup is die finale bewys jy was in ’n Europese eindstryd.

“Dis vanjaar anders vir ons en ons sien uit daarna. Dis ’n grote!”

Intussen het Klopp se eweknie Frank Lampard aangedui hy gaan sy Brasiliese speler Willian in vandag se wedstryd inspan.

Willian het Sondag die lelike loesing van 0-4 teen Manchester United uitgesit. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters