8 dae gelede
Reds bewys mense verkeerd – Klopp
WELGEDAAN! Liverpool se Jürgen Klopp (links) omhels sy Egyptian King, Mohamed Salah, vir sy vertoning teen RB Leipzig.  ~ Getty Images

JüRGEN Klopp, manager van Liverpool, glo sy span het baie mense verkeerd bewys ná Dinsdag se sege in die Uefa Champions League.

Die Reds het hul eerstebeen-kragmeting in dié kompetisie se ronde van die laaste 16 spanne met 2-0 teen RB Leipzig in Budapest se Puskás Aréna gewen.

Doele deur Mohamed Salah en Sadio Mané binne vyf minute van mekaar het die oorwinning verseker.

Dié inspirerende vertoning is net die regte doepa vir Klopp-hulle ná drie nederlae agtereenvolgens in die Engelse Premierliga. Soveel so dat Klopp onlangs erken het sy span het nie meer ’n kat se kans om sy ligatitel suksesvol te verdedig nie.

“Baie mense het seker verwag dat ons weer gaan gly en val,” het Klopp gesê. “Maar die boys het nie en ek is baie gelukkig daaroor.

“Dis die tipe wedstryd wat ons wou gehad het; die tipe wedstryd wat ons benodig het. Leipzig kan ’n ware monster wees.

Probleme

“Hulle hardloop aanhoudend en is baie fisiek, maar ons het hulle gister onder beheer gehad.

“Die afgelope twee jaar was ons baie goed, maar vanjaar het ons probleme.

“Dis normaal dat die tonge nou begin klap.

“Ek het nie ’n probleem daarmee nie. Maar die boys het gewys wat hulle kan doen,” het die Duitser bygevoeg.

Liverpool se aandag skuif nou terug na Engelse liga­sokker, met ’n kragmeting teen Everton, sy Merseyside-buurspan, wat na verwagting ook vir vuurwerk kan sorg. – Sportredaksie

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters