2 maande gelede
Red Devils streef na soete wraak
STER: Paul Pogba moet op sy beste wees om Spurs te klop. Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

MORE kry die grootste klub in Engelse sokker die kans om soete wraak in die Wembley-stadion te neem.

Die datum 27 Augustus 2018 en die telling 0-3 is sommer nog baie vars in die geheue van Manchester Unit­ed se spelers.

Op daai dag het Tottenham Hotspur op Old Trafford die Red Devils hulle eerste vernedering van die huidige seisoen­ toegedien.

José Mourinho was tóé nog die manager van ’n span in chaos, een wat glad nie sy sokker geniet nie.

Nog vernederings sou volg – veral die loesing van 1-3 teen Liverpool – voordat United se spelers uiteindelik weer onder hulle nuwe baas, Ole Gunnar Solskjaer, die liefde vir sokker aangeleer het.

Met vyf wenne agter die rug is glimlagte weer op die United-spelers en -ondersteuners se gesigte.

Die anti-United-brigade is egter vinnig om uit te wys hulle vyf seges het gekom teen spanne wat nie juis die wêreld aan die brand speel nie.

Mike Phelan, Solskjaer se assistent, sê die “nuwe United­” is reg om die naweek teen Tottenham die bordjies te verhang.

Phelan het aan die Daily Mirror verduidelik: “Die uitdaging is, elke wedstryd is ’n groot uitdaging vir Manchester United, want jy moet jou op verskillende maniere uitleef.

Grotes

“Die spelers sien uit daarna en dit is duidelik deur net naby hulle te wees.

“Hulle weet dít is die vlak (van teenstand) waarteen hulle wil speel – in ’n groot wedstryd en hulle wil die grotes gaan klop.

“Hulle wil die beste spelers op die sokkerveld wees en ons probeer hulle tot daardie punt aanspoor.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters