Verlede maand
Real, Blues positief ná gelyke stryd
Real Madrid se Karim Benzema, se reaksie nadat hy 'n kans om te score gemis het.  ~ Reuters

HULLE sal vir “elke sentimeter” moet veg wanneer Chelsea volgende week weer met Real Madrid koppe stamp.

Só sê Thomas Tuchel, manager van die Blues, ná Maandag se gelykop uitslag (1 elk) in dié sokkerspanne se eerste-been-ontmoeting in die Champions League-halfeindronde in Madrid.

Die tweede been word eerskomende Woensdag op Stamford Bridge in Londen beslis.

Die besoekers het Dinsdag die eerste doel in dié stryd aangeteken danksy Christian Pulisic se kolskoot. Karim Benzema het toe in ’n aksiebelaaide eerste helfte sake vir Real gelyk gemaak.

Die tweede helfte het nie veel aksie opgelewer nie.

Tuchel het gesê sy Chelsea-span sal baie hard moet werk as hulle vir die eerste keer sedert 2012 ’n Champions League-eindstryd wil haal.

“Dis nou soos rustyd en ons sal moet veg vir elke sentimeter, elke voordeel wat ons wil hê. Ons sal daarvoor moet veg en dit verdien,” het Tuchel gesê.

Herontmoeting

“Ek voel dat ons die eerste helfte moes wen. Ons het verdien om die eerste helfte te wen. Ons kon dalk die wedstryd reeds binne die eerste halfuur buite hulle bereik geplaas het omdat ons so sterk was.”

Tuchel se eweknie van Real Madrid, Zinedine Zidane, het ook ná Dinsdag se gelykop stryd ’n positiewe uitkyk op volgende week se herontmoeting in die Blues se agterplaas gehad.

“Ons kan beslis sê ons kanse is nog lewend en ons benader die tweede been met die gedagte om te wen,” het Zidane gesê.

“Oor die algemeen is ons gelukkig. Ons weet hulle is goed in die opposisie se helfte. Hulle is ’n baie mededingende span en staan nie baie doele af nie. Hulle het immers om dié rede vir die halfeindronde gekwalifiseer.”

Chelsea se aandag verskuif nou na Engelse Premierliga-verpligtinge wanneer hy Fulham Saterdag pak. – Sportredaksie

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters