Verlede maand
Razor wys sy hand
NUWE GESIG: Dallas McLeod speel môre binnesenter vir die Crusaders.  ~ Getty Images

SCOTT “Razor” Robertson het nog nooit geskroom om jong talent aan die diep kant in te gooi as dit by sy Canterbury Crusaders-rugbyspan kom nie.

Dié voormalige All Black-flank en tans afrigter van die Saders het dit weereens bewys deur die onbekende Dallas McLeod vir môre se openingswedstryd van Superrugby Aotearoa op binnesenter te kies.

Die Crusaders, wenners van laas jaar se eerste Aotearoa-kompetisie, reis na Dunedin om die Otago Highlanders te pak.

Ofskoon McLeod al in twee Superstryde vir die Saders gespeel het, sal dit die eerste keer wees wat hy in die beginspan kans kry om sy ding te doen. Hy het boonop groot skoene om te vul.

Met Braydon Ennor (gereelde senter-opsie vir die Saders) nog beseer, word McLeod saam met die ervare Jack Goodhue in die kampioenspan se middelveld ingespan.

“Dallas is ’n goeie jong seun, ons weet dit. Hy het regtig goed gevaar in die voorseisoen, so dit is ’n kans om ’n kombinasie aan die gang te kry, het Robertson aan Stuff.co.nz oor McLeod se insluiting gesê.

“Dit is ’n goeie geleentheid om diepte uit te bou op 12. Dit is waar Dallas byna sy volle loopbaan lank speel; hy is gereed.”

Met sy keuse op senter minag Robertson egter glad nie môre se teenstanders nie. Hy het oorgenoeg slaankrag in sy span met All Blacks soos Richie Mo’unga, Goodhue, Will Jordan, Sevu Reece, Bryn Hall, Joe Moody, Codie Taylor, Scott Barrett en Sam Whitelock in die beginspan.

Verwag

“Al ons wedstryde teen die Highlanders oor die afgelope vyf jaar was taai affêres. Dit het neergekom op ’n paar oomblikke. Daar was baie wedstryde waarin hulle voorgeloop het. Hulle is ’n span wat ’n groot geveg opsit.

“Ons verwag niks minder as dit van hulle af nie. Hulle het nou so ’n bietjie meer diepte in hul groep en vir Tony Brown, wat ’n deurwinterde afrigter is,” het Robertson gesê

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters