10 dae gelede
Rassie wil grotes lok
soek hom: JP Pietersen is op Erasmus se lys.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

RASSIE Erasmus gaan na verwagting spelers wat in Europa gesetel is, insluit in sy planne vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Met Allister Coetzee wat die trekpas as die Bok-breier gegee is, gaan Erasmus, SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby, voortaan in beheer van die Springbokke wees.

Erasmus sal waarskynlik die span by die WB-toernooi in Japan afrig. Volgens gerugte was Erasmus die naweek in Londen waar hy in gesprekke met talle oorsese spelers was. Erasmus glo dié spelers kan almal waarde toevoeg tot volgende jaar se rugbyskouspel in Japan.

Vincent Koch, vaskopstut, is een van die spelers wat Erasmus in sy visier het. Koch is tans tot 2019 by die Engelse klub Saracens gekontrakteer. Erasmus hoop om die 27-jarige vroeër van sy kontrak vrygestel te kry. Die Bulls en die Westelike Provinsie is die twee spanne wat in Koch se dienste belangstel.

Planne

Verder word berig dat Erasmus ook in spelers soos Willie le Roux, Juan de Jongh (albei Wasps), Faf de Klerk (Sale), Frans Steyn, Bismarck du Plessis, Jan Serfontein (almal Montpellier), Duane Vermeulen, JP Pietersen (albei Toulon) en Pat Lambie (Racing 92) oor hul toekoms met die nasionale span gaan praat.

Al word ’n opwindende speler soos Cheslin Kolbe baie hoog by Toulouse in Frankryk aangeskryf, lyk dit of hy nie in Erasmus se planne is nie.

Erasmus se eerste taak as nuwe Bok-breier gaan in Junie wees wanneer die Bokke in drie toetse teen Engeland in Suid-Afrika te staan gaan kom.

Die eerste toets is op 9 Junie op Ellispark in Johannesburg.

Die tweede toets is op 16 Junie in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein. Die reeks eindig met die laaste toets op 23 Junie op Nuweland in Kaapstad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters