15 dae gelede
Rassie skommel
HARDWERKEND: Bongi Mbonambi, Springbok-haker, oefen met mening vir die Rugby Championship. Foto’s: ­GALLO IMAGES  ~ 

RASSIE Erasmus kan Saterdag verras deur Bongi Mbonambi bo Malcolm Marx in die Bokke se beginspan teen die Wallabies in Brisbane in te span.

Marx word as een van die beste hakers in wêreldrugby beskou.

Die 24-jarige het die toetsreeks teen Engeland weens ’n besering misgeloop. In sy afwesigheid het Mbonambi hom baie goed van sy taak gekwyt teen die Engelse.

Marx het sy terugkeer in Suid-Afrika se eerste twee toetse in die Rugby Cham­pionship teen die Poemas gemaak. Hy was egter nie heeltemal op sy beste nie.

Dit was veral sy akkuraatheid met ingooie in die lynstane wat gelol het. Die verstandhouding met sy springers was nie in die kol nie.

Die Bokke het dus in dié aspek van die spel teen die Poemas gesukkel.

Een van Mbonambi se sterk punte is sy vermoë om sy lynstaanmanne te vind. Hy sal straks dus ’n kans in die nr. 2-trui kry, met Marx wat van die plaasvervangerbank aangewend sal word.

Die veteraan-loskopstut Beast Mtawarira gaan straks ook ’n blaaskans gegun word om plek te maak vir Steven Kitshoff. Die rooikop het tot dusver elke keer ’n groot impak gemaak wanneer hy van die plaasvervangerbank aangewend is.

Hy kan dus kans kry om saam met sy Stormer-spanmaats Mbonambi en Frans Malherbe verwoesting in die voorry te saai.

ervare: Rassie Erasmus gaan dapper spankeuses teen die Wallabies maak.
Cheslin Kolbe
Steven Kitshoff
Elton Jantjies

Erasmus kan ook verder verras met die insluiting van Elton Jantjies in die plek van Handré Pollard op losskakel.

Pollard se stelskopwerk was power teen die Poemas. Dit het ook die res van sy spel negatief geaffekteer.

Erasmus sal dit dus oorweeg om Jantjies weer saam met sy skakelmaat van die Lions, Faf de Klerk, teen die Wallabies in te span.

Whiteley kan ’n nuwe lostrio-kombinasie met Pieter-Steph du Toit en die kaptein, Siya Kolisi, vorm.

Erasmus gaan ook na verwagting die ervare middelveld-kombinasie van Damian de Allende en Jesse Kriel sterk oorweeg.

Daar is ook sprake dat die blitsbuks Cheslin Kolbe sy Bok-buiging van die plaasvervangerbank sal maak.

Die moontlike Bok-beginspan is:

Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters