Verlede maand
Rasool skep aksieplan vir WP Rugby
WP Rugby
Ebrahim Rasool  ~ Gallo Images
DIE Westelike Provinsie se Rugbyraad het besluit om belangrike veranderinge aan te bring met die doel om uitnemendheid op en af van die veld te bereik.

Volgens Ebrahim Rasool, die voorsitter van die WP se direksie, beoog hulle om dit deur gesonde bestuur en leierskap in die maatskappy reg te kry.

Rasool en John Dobson, die hoofafrigter van die Stormers en die WP, het Dinsdag  die media in ‘n aanlyn konferensie toegespreek.

Die raad het ’n praktiese aksieplan opgestel om sy doelwitte te bereik om ’n rugbyspan van wêreldgehalte te bou deur die gelukkigheid en veiligheid van spelers te verseker.

Rasool het die belangrikeidvan finansiële aanspreeklikheid en volhoubaarheid beklemtoon. Dit kan slegs bereik word deur deursigtige bestuur, betrokkenheid by alle belanghebbendes en inklusiewe transformasie. 

“Hierdie verbintenis tot uitnemendheid in rugby berus nie bloot op die waarborg van gelukkige spelers en suksesvolle onderhandeling oor nuwe kontrakte nie, maar ook om ’n omgewing te skep om met trots en vasberadenheid te kan presteer,” het hy gesê.

“Wat bestuurstabiliteit en integriteit betref, het die direksie onderneem om die magte en funksies van die unie en die maatskappy verder te skei. 

“Dit sluit in ’n ondersoek en aanstelling van ’n nuwe afsonderlike uitvoerende hoof in Januarie 2021. Die ko-opsie op die direksie van Solly Moeng sal ook die bestuurskomitee van die onafhanklike raadslede versterk. 

“Daar sal ’n groter fokus wees op volgehoue en betekenisvolle betrokkenheid by spelers, personeel, borge en die publiek. Die direksie sal poog om finansiële lewensvatbaarheid in die toekoms te verseker deur positief met alle belanghebbendes in gesprek te tree en sodoende vertroue en ’n gedeelde begrip van ons gemeenskaplike doelstellings te verseker.”

Rasool het verder gesê dat hierdie resolusies bedoel is om alle belanghebbendes in dieselfde span te hê en in dieselfde rigting te laat trek.

“Ons het ongelooflike potensiaal as ’n onderneming en ons het ook ’n paar waardevolle bates in die vorm van ons wêreldklas-spelers, topborge en natuurlik ons passievolle ondersteuningsbasis. Met al hierdie groepe werk ons saam in ’n noukeurig gekoördineerde strategie. Ons is vol vertroue dat ons groot dinge vorentoe kan bereik,” het hy gesê. 

Dobson sê die spelers en bestuur is daartoe verbind om die soort rugby te lewer waarop alle belanghebbendes trots kan wees.

“As spelers en bestuur is ons bevoorreg om hierdie span en hierdie handelsmerk te verteenwoordig en ons bly daartoe verbind om dit  op die veld te doen. Ons word aangemoedig deur hierdie nuwe weg wat die raad ingeslaan het en ons sien uit na ’n suksesvolle 2021 vir Westelike Provinsie Rugby,” het hy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters