8 maande gelede
Rasool se plan vir WP
Ebrahim Rasool  ~ Gallo Images

DIE Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) moet nie net van die gevolge van die Covid-19-pandemie herstel nie, maar ook uit die finansiële verknorsing waarin hy hom tans bevind.

Volgens Ebrahim Rasool, voormalige premier van die Wes-Kaap, is dít van die hooftake waarvoor hy as nuwe voorsitter ’n oplossing sal moet vind.

Rasool is Vrydag as voorsitter van die unie se sakevleuel aangestel.

Hy het van 2010 tot 2015 die prestigeryke amp van Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika beklee.

Hy glo die groot uitdaging in WP Rugby is om die balans reg te stel met die wettige eise van rugby op voetsoolvlak en op professionele vlak.

Rasool het gister aan Son gesê: “Mense ken my net as ’n politikus, maar wat baie nie weet nie, is dat ek vir die Hoërskool Livingstone se eerste span rugby gespeel het toe ek ’n leerder in st. 8 (gr. 10) was.

Beleggers

“Ek het ook as junior vir Callies teen Stars RAG gespeel voordat ek later by die UDM betrokke geraak het.

“Toe ek die minister van finansies en ekonomiese ontwikkeling, en die premier van die Wes-Kaap was, het ons op daardie tydstip die hoogste finansiële groeipunt (5,8%) gehad deur goeie bestuur van die ekonomie.

“Wat egter belangriker is, is die inspuiting van buitelandse beleggers. Oor ’n tydperk van vier jaar het ek meer as R14 miljard na die Wes-Kaap gebring.

“Dit is dus heeltemal onakkuraat om te sê dat ek niks van rugby en finansies weet nie.

“Ons moet kyk na maniere hoe ons beleggers kan kry sonder om rugby te compromise.

“Die spelers moet ook op hul gemak wees in ’n situasie waar die rand nie met die euro en die pond kan saamgesels nie.

“Ek dink dit is die soort balans waarna ons sal moet streef in die Wes-Kaap.”

Rasool is ook daarvan oortuig daar moet na ’n billike formule gekyk word waarmee almal voordeel kan trek uit ’n suksesvolle Stormers- en ’n WP-span.

Transformasie

“Rugbyspanne in Mitchells Plain, die Bo-Kaap en in Khayelitsha­ moet voel hulle is deel van daardie sukses.

“Die politiek van afguns is belangrik in hoe jy transformasie beskou. Dit kan óf as kwaliteit óf kwantiteit beskou word.

“Ons moet ’n manier vind waarop almal gelukkig daarmee kan wees,” voeg hy by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters