9 maande gelede
Rasool lei WP se raad
Ebrahim Rasool  ~ Gallo Images

TERWYL skinderstories die ronde doen oor wat spelers dink en sê oor hoe die Westelike Provinsie-rugbyvoetbalunie sake doen, het sy president, Zelt Marais, gister ’n groot aankondiging oor die toekoms van dié unie gedoen.

Die voormalige premier van die Wes-Kaap Ebrahim Rasool is as die voorsitter van die unie se sakevleuel aangestel.

Rasool se aanstelling is Vrydag in ’n raadsvergadering bekragtig.

Marais het die eenparige besluit van die unie – 100% aandeelhouer – aan die sakevleuel aangekondig.

Rasool sal onmiddellik as voorsitter van die sakevleuel begin werksaam raak.

Hy vervang Johan van der Merwe, wie se tyd as voorsitter tot ’n einde gekom het.

Marais het Van der Merwe vir sy termyn as voorsitter bedank.

Rasool se ervaring as ambassadeur sal volgens Marais ook baie vir die unie beteken.

“Ons sien uit daarna om ambassadeur Rasool se ervaring en netwerk tot die voordeel van WP Rugby te gebruik.”

Hy is ’n rugbyman deur en deur. Oor sy aanstelling het Rasool gesê: “Dit is ’n diep eer en besonderse uitdaging om hierdie pos te aanvaar.

“Die Wes-Kaap is sonder twyfel die bakermat van rugby in Suid-Afrika en ons moet rugby van voetsoolvlak – klubs en skole – tot beroepsrugby, die Stormers en Springbokke bevorder.

Vorentoe

“Ons moet ook die geskiedenis van rugby in sy totaliteit vier – van die gevierdes tot dié wat uit die geskiedenis geskryf was.

“Ons kan net vorentoe beweeg as ons waarde vir almal betrokke in die spel bring. Dit sluit in beleggers en borge, spelers en ’n baie lojale rugbypubliek in die streek.

“Ek sien uit daarna om saam met die president, Zelt Marais, te werk en seker te maak daar is volhoubaarheid en uitnemendheid in die streek.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters