9 maande gelede
Rasool kan WP Rugby dalk red
Ebrahim Rasool  ~ Getty Images

EBRAHIM Rasool se aanstelling as die voorsitter van die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) se direksie kan as ’n stap in die regte rigting beskou word.

Die WPRVU het Vrydag ná sy algemene jaarvergadering in ’n verklaring bevestig twee van sy onafhanklike direksielede, dr. Johan van der Merwe (voorsitter) en André van der Veen, se termyne het verstryk.

Volgens Son se inligting gaan Rasool, voormalige premier van die Wes-Kaap en Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika, vandeesweek as Marais se plaasvervanger as voorsitter van die WPRVU-direksie aangewys word.

Vereistes

Dié 58-jarige boorling van Distrik Ses was van 2004 tot 2008 die premier van die Wes-Kaap en het van 2010 tot 2015 in die prestigeryke pos as SA ambassadeur in Amerika gedien.

In sekere kringe sal Rasool se aanstelling as polities gemotiveerd beskou word omdat hy ’n lid van die ANC is.

In dieselfde asem kan ook geargumenteer word dat Van der Merwe ’n DA-lid van die Kaapse Metro-raad is.

Die realiteit is egter dat die WPRVU genoop is om aan die vereistes van SA Rugby (Saru) se strategiese transformasieplan te voldoen.

Die WPRVU voldoen tans nie aan dié vereistes nie.

As dit net oor die welsyn van die WP en Stormers se geld­sake en rugby gaan, moet ’n mens vra of Van der Merwe in sy termyn as voorsitter suksesvol was.

Dieselfde geld vir Van der Veen.

Met dié twee wat sleutel­rolle op die direksie gespeel het, het die WP en Stormers op finansiële vlak en op die speelveld misluk.

In enige professionele organisasie wat onsuksesvol is, moet diegene in beheer verantwoordelik gehou word daarvoor.

As hulle die mas nie kan opkom nie, moet hulle die trekpas kry. Professionele sport word wêreldwyd só bedryf.

Dit moet ook glad nie saak maak watter politieke organisasie ’n kandidaat ondersteun nie. Al wat regtig saak maak, is watter waarde die kandidaat kan toevoeg.

Benewens Rasool se indrukwekkende rekord as leier, is hy bekend daarvoor dat hy nog altyd ’n voorstander was vir regverdigheid wat gelyke geleenthede in sport betref, veral in rugby.

Die tyd het lankal aangebreek vir verandering. Rasool kan net die regte inspuiting wees vir die beleërde WPRVU.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters