Verlede maand
Rafa weet nie wanneer hy weer tennis gaan speel nie
Beseer: Rafael Nadal is in dié stadium nog aan die herstel.  ~ _GETTY IMAGES

DIE 20-malige Grand Slam-wenner in tennis, Rafael Nadal, weet nog nie wanneer hy gereed sal wees om ’n terugkeer te maak nie.

Die Spanjaard se laaste deelname aan ’n groot toernooi was in die tweede Grand Slam van die jaar, die Franse Ope.

Hy is egter vanjaar in die halfeindronde uitgeskakel uit dié toernooi, wat hy al meer as 10 keer gewen het.

Nadal het daarna besluit om hom weens ’n voetbesering te onttrek.

Hy’t dus Wimbledon, die Olimpiese Spele in Tokio en die Amerikaanse Ope misgeloop.

Hy sal ook nie in vanjaar se groot eindtoernooi vir top-spelers, die ATP Masters 1 000 Finals, in aksie wees nie.

Volgens Nadal (35) weet hy self nie wanneer hy uiteindelik weer ’n terugkeer gaan maak nie.

Hy het aan Reuters gesê: “Ek wil eers van hierdie besering herstel en seker maak ek keer in ’n goeie toestand terug.

Beheer

“Ek weet nie wanneer ek weer gaan speel nie. Ek werk elke dag hard. Ek volg ’n spesifieke plan met ’n uitgemerkte roadmap...

“Daar is maar altyd dinge waarvan ’n mens nie 100% in beheer kan wees nie, maar in my kop is daar duidelikheid oor wat my doelwitte is en ek vertrou dat dinge op ’n positiewe manier sal uitwerk.”

Al het die Spanjaard ’n paar kleibaan-toernooie in die ATP Masters-reeks gewen, sal hy erken sy seisoen was ’n misoes.

Veral sy uitskakeling deur Novak Djokovic in die Franse Ope se halfeindronde sal nog seermaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters