Verlede maand
Radebe voer Olifante aan teen Bulls
SPANWERK: Peter de Villiers (afrigter) en Inny Radebe (kaptein) van die OP Olifante.  ~ Foto Verskaf

INNY Radebe gaan Sondag op Loftus Vers­feld in Pretoria opgesaal wees met die groot taak om die OP Olifante in ’n voorbereidingskragmeting met die Bulls aan te voer.

Die 26-jarige boorling van Johannesburg het in 2011 as ’n junior die Goue Leeus op o. 16-vlak by die Grant Khomo-week verteenwoordig. Hy het die Leeus in 2012 en 2013 op o. 18-vlak by die Cravenweek verteenwoordig.

Die oudleerder van St Stithians College in Durban het egter eers in 2016 as ’n vaardige losskakel by die Sharks naam gemaak. Hy het ongelukkig ná net twee verskynings vir die Sharks-15-tal ’n meniskus geskeur.

Die spelskepper het hom daarna in die rugbywildernis bevind voordat die span van Durban hom in 2018 vrygestel het.

Beïndruk

Dit was ’n onstuimige paar jaar vir Radebe, wat einde laas jaar saam met die Springbok-sewesspan geoefen het in die hoop dat hy sy waarde kan bewys. Hy het egter gesukkel om by die hoë intensiteit van die span se oefensessies aan te pas.

’n Paar weke gelede het hy aangekom in die Oos-Kaap, waar die OP-breier, Peter de Villiers, hom ’n kans gegee het.

Radebe het die voormalige Springbok-afrigter só beïn­druk­ dat hy beloon is met die kapteinskap van die span van Gqeberha.

Radebe is entoesiasties oor sy geleentheid en beoog om sy verblyf in die Oos-Kaap permanent te maak.

CJ Velleman is die enigste ander bekende speler in die OP-span.

Velleman (26), ’n boorling van die Baai, het sedert 2016 in 20 games vir die Southern Kings uitgedraf. Dié oudleerder van die Hoërskool Grey is ’n woelige losvoorspeler wat sy stem sal wil dik maak by die afbreekpunte teen die gedugte Bulls.

Die res van die OP-spelers bestaan hoofsaaklik uit onbekende klubspelers.

OP Olifante – Riaan Arendse, Josiah Twum-Boafo, Christopher Hollis, Sherwin Slater, Qeutyne Oerson, Inny Radebe (k), Luvo Claassen, Luigi van Jaarsveld, Anele Lungisa, CJ Velleman, Mncedisi Diwengu, Athenkosi Manenze, Lupumlo Mguca, Robin Stevens, Lyle Lombard.

BANK: Sithembiso Befile, Siya­kubonga Nzuzo, Emile Klassen, Ronald Sheckle, Arnold Kleyne, Diego Williams, Josh Allderman, Keanu Vers.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters