HET Quinton de Kock ’n nuwe hou op die krieketveld in Bengaluru ontdek?
Die “loslappie-hou” blyk baie effektief te wees, want dit was ’n elegante hou oor halfweg wat vir De Kock ses lopies werd was.
De Kock en sy Protea-spanmaat AB de Villiers was Vrydagaand op hul stukke met puik kolfwerk vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) teen die Kings XI in die Indiese Premierliga (IPL).
David Miller, nog ’n Protea, is in die Kings XI se groep, maar het nie in dié wedstryd gespeel nie.
Uitgevra
Die RCB het met vier paaltjies gewen en het die wenlopie behaal toe net drie balle oor was.
Tydens De Kock (45) en De Villiers (57) se skitterende vennootskap van 54 lopies om die derde paaltjie is ’n televisie-onderhoud met Miller langs die veld gevoer.
Hy is uitgevra oor sy Protea-spanmaats se kolfwerk en was vol lof daarvoor. Dit was pas nadat De Kock die ses geslaan het, wat Miller as ’n “loslappie-hou” beskryf het.
Geen Afrikaansmagtige kommentators was by die uitsending betrokke nie en die kykers het gewonder wat ’n “loslappie-hou” is.
Miller het waarskynlik verwys na “Loslappie”, die gewilde liedjie van die sanger Kurt Darren, maar dit was nie duidelik wat hy daarmee bedoel het nie.
Dit was duidelik ’n skertsende opmerking en Miller het dit later in die onderhoud herhaal, maar daar was geen vraag van die kommentators om te verduidelik wat ’n “loslappie-hou” is nie.
De Villiers was agterna omgekrap dat hy nie steeds voor die paaltjies was toe die sege beklink is nie.
Ná sy vertrek, het die RCB se lopiejaagtog byna ontspoor.
“Ek was gretig om onoorwonne te wees en die span na die oorwinning te lei. Dit is spesiaal om in die Chinnaswamy(-stadium) te speel. Die RCB het verlede jaar nie goed gevaar nie en ons wil nou daarvoor vergoed,” het De Villiers gesê.