13 dae gelede
Akani-hulle is pure goud
VREUGDE: Die Suid-Afrikaanse 4x100 m-aflosspan vier sy goue medalje op die Wêreldbyeenkoms in Pole.  ~ Getty Images

“WANNEER jy as span só iets kan vermag, is daar geen perke nie.”

Dít was Akani Simbine se reaksie nadat die seëvierende Suid-Afrikaanse 4x100 m-aflosspan vir mans gewys het hy is op koers om later vanjaar op die podium by die Olimpiese Spele in Tokio te staan.

Simbine en sy spanmaats het Suid-Afrika Sondagaand op dramatiese wyse tot glorie in die 4x100 m-aflos vir mans op die Wêreldbyeenkoms vir aflosspanne in Silesië in Pole gelei.

Suid-Afrika se rekordhouer in die 100 m het gister gesê: “Tydens die byeenkoms was die weer gruwelik. In die finaal was die temperatuur 7 grade.

“Al wat ons moes doen, is om mekaar te vertrou. Ek dink dis wat ons reggekry het. Die spoed was daar. Ons uitdaging was om die aflosstokkie aan te gee sonder om foute te maak.”

’n Verheugde Simbine het bygevoeg: “Ons het na Pole gekom met die idee om ’n medalje te verower. En ons het dit gedoen.”

Thando Dlodlo het die naelloop begin met Gift Leotlela wat die tweede been gehol het. Simbine, wat vanjaar reeds die 100 m in minder as tien sekondes afgeblits het, het die aflosstokkie in die laaste been by Clarence Munyai oorgeneem, met die Brasiliaan Paulo André Camilo de Oliveira sowat drie meter voor hom. Hy het egter die Brasiliaan op indrukwekkende wyse ingehaal en met ’n honderdste van ’n sekonde, in ’n tyd van 38,71 sek., die goue medalje vir die Reën­boognasie gewen.

Die Brasiliane het gedink hulle het gewen en reeds begin vier voordat die Suid-Afrikaners as die wenners aangewys is.

Die amptelike uitslae wat later bekend gemaak is, het egter getoon dat die Brasiliane gediskwalifiseer is omdat hulle van die baan getrap het. Italië (39,21) is toe die silwermedalje gegee. Japan het die brons in 39,42 gewen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters