5 maande gelede
Pumas werk hard vir sege oor Griekwas
devon williams
Devon Williams, losskakel van die Pumas, is as die speler van die wedstryd aangewys. FOTO: Dirk Kotze/Gallo Images  ~ 

DIE Pumas het Vrydagaand in Nelspruit slegs hul tweede oorwinning van die seisoen behaal toe hulle die begeesterde Griekwas met 22-17 in ’n Curriebeker-kragmeting geklop het.

Die rustydtelling was 15-7 in die guns van die span van Jimmy Stonehouse, afrigter. Sy Griekwas-eweknie, Scott Mathie, se span bly steeds segeloos in vanjaar se kompetisie.

Die Pumas het van meet af hul gesag voorlangs behoorlik in die vaste fasette afgedwing. Die manne van Nelspruit het Griekwas onder geweldige druk geplaas, veral in die skrums. En dit was geen wonder nie dat die besoekers van Kimberley in die 21ste minuut in dié aspek van die spel ’n strafdrie afgestaan het.

Die Poubloues het egter nie slapgelê nie. Hul skrumskakel, Zak Burger, het met ’n goed berekende aangee sy linkervleuel, Eduan Keyter, wat ’n puik lyn gehardloop het, weggestuur vir hul eerste drie. Tinus de Beer, losskakel, was in die kol met die doelskop.

Luther Obi, regtervleuel van die Pumas, het in die 32ste minuut ’n briljante dwarskop van sy losskakel, Devon Williams, uit die lug gepluk. Obi het sy krag en vaart gewys om sy span se tweede drie te gaan score.

In die tweede helfte het die besoekers hul voete begin vind en die eerste punte aangeteken met ’n strafdoel van De Beer. Dit het die telling na 10-15 vernou.  De Beer het egter twee geleenthede vir aanvallende lynstane verbrou toe hy nie die kantlyn met sy strafskoppe kon vind nie.

En toe De Beer uiteindelik die bal in die Pumas se kwartgebied vir ’n aanvallende lynstaan uitskop, kon hulle nie hul eie lynstaan wen nie. Die manne van Kimberley was eenvoudig net nie akkuraat genoeg in hul uitvoering nie. Hulle het eenvoudig net te veel onnodige foute begaan wat tot hul ondergang gelei het.

Die harde werk van Daniel Maartens, die losvoorspeler van die Pumas wat vir die eerste keer in die beginspan ingesluit is, is beloon toe hy in die 72ste minuut ’n losbal opgeraap het. Hy het sy ore platgetrek en sowat 40 m genael vir sy span se derde drie.

Griekwas het egter nie tou opgegooi nie. Met drie minute speeltyd oor het Keyter sy tweede vyfpunter van die game aangeteken nadat die voor- en agterspeler goed gekombineer het. De Beer se doelskop het sy span weer binne trefafstand gebring.

Williams, wat gewoonlik op heelagter speel, het beïnndruk in sleg sy tweede game in die nr. 10-trui. Hy is agterna as die speler van die wedstryd aangewys.

puntemakers

GRIEKWAS – drieë: Eduan Keyter (2); doelskop: Tinus de Beer (2); stradoel: De Beer.

PUMAS – strafdrie; drieë: Luther Obi, Daniel Maartens; doelskop: Ginter Smuts; strafdoel: Smuts.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters