29 dae gelede
PSL wik, maar Safa beskik
irvin khozaFoto: BACKPAGEPIX  ~ 

DIE pasaangeër in die Nasionale Eerste Liga (NFD), Ajax Cape Town, word bevorder na die Premier-sokkerliga (PSL).

Die tweede en derde geplaaste spanne, Swallows FC en Uthongathi FC onderskeidelik, sal uitspeel teen die span wat tweede laaste eindig in die PSL.

Geen NFD-span word egter gerelegeer nie.

Na verneem word is dít van die voorstelle wat die PSL-baas, dr. Irvin Khoza, op die tafel het.

Dis as deel van sy planne om die seisoen te hervat en dit so gou moontlik af te handel.

Natuurlik sal die land se sokkerbeheerliggaam, die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), die laaste sê hê en sy goedkeuring moet gee.

Ná ’n onderbreking van meer as 100 dae sedert lockdown sal daar vandag meer duidelikheid wees oor die pad vorentoe.

Dis omdat Khoza ’n nuuskonferensie sal hou wat 12:00 op SuperSport uitgesaai sal word.

Sondag is ook voorgestel as die dag waarop die 16 PSL-spanne die 2019-’20-seisoen moet afhandel.

Boonop is Gauteng geïdentifiseer as ’n neutrale venue waar die spanne hul oorblywende wedstryde sal voltooi.

Maar nou word dié venue bevraagteken omdat groot kommer heers oor die toenemende Covid-19-gevalle in die provinsie.

Talle van die PSL-klubs het laas week na die oefenveld teruggekeer as deel van hul voorbereiding om die spel te hervat.

Daar is ook vrese dat die spelers se fiksheidsvlakke nie sal wees waarop dit moet wees nie en dit hou ook risiko’s vir hul veiligheid in.

Verskille

Safa het dit laas week duidelik gemaak dat hy volle beheer neem oor die PSL se terugkeer na oefeninge en wedstryde.

’n Mens sal hoop die land se sokkerbase kyk verby hul verskille en maak ’n prioriteit van die spel vir almal se veiligheid.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters