7 dae gelede
PSDT bly by Stormers
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 13: Pieter-Step
BLY IN KAAP: Pieter-Steph du Toit gaan aanhou vir die Stormers speel.  ~ Gallo Images

DIE Stormers het Donderdagoggend bevestig dat Pieter-Steph du Toit in die Kaap gaan bly.

Wêreldrugby se speler van 2019 het laas week die opsie uitgeoefen om sy bestaande kontrak met die Westelike Provinsie te eindig.

Die Springbok-flank het ander winsgewende aanbiedinge van Frankryk en Japan gekry. Dit was egter altyd sy voorneme om ’n nuwe ooreenkoms met die unie aan te gaan.

Sedertdien is daar tussen die partye onderhandel. Du Toit se toekoms was nie seker tot Donderdag se aankondiging nie.

Luidens ’n verklaring van die Stormers het Du Toit sy kennisgewing oor die beëindiging van die kontrak teruggetrek. Hy sal nou by die Stormers bly tot die einde van die 2021 Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika. Andre van der Veen, ’n bestuurslid van die Stormers, het gesê hoewel daar baie hard gewerk is om tot hierdie gevolgtrekking te kom, is dit bevredigend om ’n resolusie aan te kondig wat al die betrokkenes pas.

“Pieter-Steph wou altyd by die Westelike Provinsie Rugbyunie bly. Hy is ’n ware span man wat ’n integrale deel van ons planne by die WP Rugbyunie is.

“Ons is daartoe verbind om ’n billike oplossing vir hom en die hele span te vind en ons is bly om dit amptelik te kan bevestig,” het hy gesê.

John Dobson, afrigter van die Stormers, sê om ervare spelers van wêreldgehalte soos Du Toit en die ander sewe wenners van die Wêreldbeker in die groep te hou. Hy meen ’n belangrike element is die visie om die rugbygemeenskap in die Kaap te beloon met ’n span waarop hulle trots kan wees.

Dobson sê: “Pieter-Steph is ‘n belangrike spanlid. Sy buitengewone werkverrigting, tesame met sy vaardighede as ’n baldraer, maak ons voorspelers net meer gedug.

“Die rehabilitasie van sy besering vorder goed en ons sien uit daarna om hom weer in ’n Stormers-trui te sien, sodra ons weer op die veld kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters