8 dae gelede
Proteas weier om oor chokery te praat
Gatslag: Allan Donald (links) vergeet om te hardloop in 1999 se halfeindstryd teen Australië. Donald is uitgeloop en die wedstryd het gelykop geëindig. Foto: Craig Prentis/ALLSPORT/Gallo Images  ~ 

DIE Proteas het niks om te verloor in dié jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland nie – so, moenie eens daaraan dínk om hulle chokers te noem nie.

Die media is ook klaar gewaarsku om eerder nie die vraag oor 1999 se tragedie in Engeland te vra nie.

Ottis Gibson, afrigter, en sy Proteas se antwoord gaan ’n duidelike “no comment” wees.

“Hier sit en hoop ek nou niemand gaan vandag daai vraag aan my stel nie,” het Gibson met verwysing na die Proteas se dramatiese insinking in die 1999-skouspel se halfeindstryd teen Australië gesê.

Suid-Afrika het net één lopie gekort om te wen, maar toe vergeet Allan Donald mos om te hardloop.

Die uitslag was gelykop en Australië is toe met sy beter lopietempo deur om die eindstryd te gaan wen.

“Ons praat nie daaroor nie,” het Gibson oor “die spook van 1999” gesê.

“Elke jaar grawe iemand dit op en ek het so gehoop niemand gaan dié keer daaroor praat nie.

“Wat ek wel kan sê, is dat ons oor elke liewe aspek gesels­ het van wat in Engeland op ons wag – en dít was een van die goed gewees.

“Ons het besluit om eerder nie (met die media) daaroor te praat nie.

“Van my kant af gaan dit ’n ‘no comment’ wees. Ek was in elk geval nog nooit lid van ’n span met wie so iets gebeur het nie.”

Volgens Gibson word die siening van die Proteas wat choke deur die media aangedryf.

“Ten einde laaste gaan dit oor hoe julle oor ons wedstryd verslag doen.

“Wanneer óns naelskraaps wen, word daar min geskryf oor hoe ons gespeel het. Maar wanneer ons met die laaste bal verloor, dan het ‘daai ding weer gebeur’.”

Uitsien

Gibson sê daar’s jong spelers in die span wat niks met 1999 se voorval uit te waai het nie en dit is onregverdig om hulle oor dieselfde kam te skeer.

Al waarna die breier uitsien, is sy span se eerste wedstryd teen die gasheer, Engeland, en die feit dat sy span nie as gunsteling beskou word nie.

“Ons is doodgelukkig daarmee dat ons onder die radar gaan vlieg.

“Ons sien uit na die wedstryd teen Engeland en ons gaan net ons beste probeer lewer,” sê Gibson.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters