2 maande gelede
Proteas soek allrounder
Andile Phehlukwayo is ’n kandidaat vir die veelsydige rol in die Protea-span.Foto: gallo images  ~ 

DIE gebrek aan veel­sydige spelers is ’n kopsorg vir Suid-Afrika se krieketspan.

Suid-Afrika se kaptein, Faf du Plessis, het die week by Krieket Suid-Afrika se bekendstelling van die komende seisoen in Centurion na dié tekort verwys.

Du Plessis het gereageer toe hy uitgevra is oor wat van die Proteas vereis sal word om volgende jaar die Wêreldbekertoernooi in Engeland en Wallis te wen.

Een van die vereistes wat Du Plessis uitgewys het, is ’n lang kolflys.

“Jy moet jou kolflys so lank as moontlik probeer maak.

“Engeland het ’n lang kolflys en kan daarom as die gunsteling beskou word om die toernooi te wen,” het Du Plessis gesê.

“Met ons span is dit anders. Ons het nie daardie veelsydige spelers nie.”

Die gebrek aan volwaardige veelsydige spelers wat met vertroue ingespan kan word, sal ’n groot invloed op die Proteas se spankeuses hê.

Suid-Afrika se afrigter, Ottis Gibson, het ná die onlangse eendaagse reeks in Sri Lanka ook daarna verwys.

Hy het toe gesê dit is onwaarskynlik dat die draaiers Imran Tahir en Tabraiz Shamsi saam ingespan sal word omdat albei nie juis ’n kolfbydrae lewer nie.

Die Proteas sal Chris Morris se fiksheid met groot belangstelling dophou.

Hy kon weens ’n kombinasie van beserings nie in Sri Lanka speel nie, maar kan die rol van die veelsy­dige speler vul wanneer hy fiks is.

Andile Phehlukwayo en Wiaan Mulder het as veelsydige spelers in Sri Lanka diens gedoen, maar nie heeltemal oortuig nie.

Hulle boulwerk moet van so ’n gehalte wees dat hulle die volle kwota van tien boulbeurte kan afstuur en dit kan bevraagteken word.

Du Plessis voel die Proteas sal net met ’n baie sterk boulaanval die beker wen.

“Jy het drie (spesialis) naatboulers in jou aanval nodig. Jy moet boulers hê wat in die Engelse speeltoestande enige tyd paaltjies kan neem. Dit was Pakistan se sleutel tot sukses in die verowering van die Champions Trophy verlede jaar in Engeland.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters