13 dae gelede
Proteas se balans nie reg
LEKKER! Lungi Ngidi vier Woensdagaand fees in Oos-Londen.  ~ Getty Images

KAPTEIN Quinton de Kock en Mark Boucher (afrigter) sal in hulle noppies wees met die feit dat die Proteas tans 1-0 voorloop in die T20-reeks teen Engeland.

Veral nadat dit Woensdag op Buffalo Park in Oos-Londen gelyk het asof hulle teen die planke is in die eerste van drie wedstryde.

Lungi Ngidi het egter kom­kommerkoel gebly en met ’n rits stadiger balle die Engelse geflous en net vyf in die laaste beurt afgestaan.

Suid-Afrika het dus die spannende wedstryd met ’n enkele lopie gewen.

Die tweede kitswedstryd vind vandag op Kingsmead plaas. Die goeie nuus is dat geen reën vir Durban voorspel word nie. Dis deesdae ongewoon dat wedstryde voltooi word, met swak lig en eendeweer wat spel onmoontlik maak.

Al het die Proteas die taai stryd in Oos-Londen gewen, was die balans van die span nie na wense nie.

Die spesialis-bouler Beuran Hendricks het eers in die 15de boulbeurt begin boul en net drie beurte geboul, terwyl die veelsydige Dwaine Pretorius glad nie ingespan is om te boul nie.

SA het vyf spesialis-kolwers in De Kock, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, Jon-Jon Smuts, David Miller en Jon-Jon Smuts gespeel, met Pretorius en Andile Phehlukwayo as veelsydige spelers.

Dit het hulle met Hendricks, Dale Steyn, Tabraiz Shamsi en Ngidi as stertkantkolwers gelaat – manne wat nie veel vertroue met die kolf inboesem nie.

Waak

Die keurders kan dus besluit om Pite van Biljon in die middelorde in te span om meer stukrag aan die kolflys te gee. Pretorius of Hendricks sal in so ’n geval weggelaat word.

Reeza Hendricks is ook in die groep, maar die keurders sal daarteen waak om die kombinasie van De Kock en Bavuma op te breek, met albei tans in goeie vorm.

  • Intussen heers daar nog onsekerheid oor Sisanda Magala se beskikbaarheid. Hy is nie vir die Oos-Londen-stryd oorweeg nie, aangesien hy “nie aan die span se fiksheidsvereistes voldoen het nie”.

Hy ondergaan luidens ’n verklaring van die Proteas wéér vanoggend in Durban ’n fiksheidstoets.

Die eerste bal op Kingsmead word 18:00 geboul.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters