3 maande gelede
Proteas: Ottis vol smiles
ottis gibsonFoto: jonathan lestrade  ~ 

OTTIS Gibson is baie opgewonde oor die hope keuses tot sy beskikking wanneer dit kom by die kies van Suid-Afrika se uitsoek-krieketspan.

Die Proteas se afrigter het verduidelik die weerstoestande in Engeland en Wallis sal bepaal hoe sy elftal sal lyk wat die Wêreldbeker gaan probeer wen.

Gibson meen dit is onmoontlik om vooraf ’n elftal uit die groep van 15 spelers te kies.

“Die Engelse weerstoestande sal ’n groot rol daarin speel hoe die span sal lyk.

“Dit is die wonderlike ding van hoe ons groep saamgestel is.

“Met die kies van die spelers het ons daarna gemik om baie opsies te verkry.

“Ons het kolwers wat op verskillende plekke in die orde kan gaan kolf en spelers wat in verskeie rolle gebruik kan word,” het Gibson gesê.

Hy het gesê die sterkste span sal vir elke wedstryd gekies word.

“Die sterkste span sal egter nie altyd dieselfde spelers wees nie.

“Dit sal ook afhang van wie ons teenstanders is en kan van wedstryd tot wedstryd verskil.”

Gibson dink die weerstoestande sal ’n groot invloed op die toernooi en die speeltoestande hê.

“Daar word nou warm weer voorspel wat die blaaie kan uitdroog.

“Ons afrigtingspan het egter baie ondervinding van die Engelse toestande.

“Van ons spelers het ook al voorheen baie krieket daar gespeel.

“Aiden Markram het nou net van graafskapkrieket in Engeland teruggekeer.

“Hy het juis een van ons besprekings oor die verwagte speeltoestande gelei.”

Die speeltoestande was maar net een van die dinge wat die Proteas die laaste paar dae met hulle afrigtingspan bespreek het.

Hulle het sedert Sondag in Kaapstad vir ’n oefenkamp met die oog op die Wêreldbeker-toernooi begin saamtrek.

Die groep het ’n draai op Tafelberg gaan maak, ’n aandete saam geniet en talle besprekings gehou. Die voorbereiding word vandag na Pretoria verskuif voordat hulle Sondag VK toe vlieg.

Spangees

“Ons sou graag meer tyd wou gehad het om voor te berei, maar gebruik die kans wat ons het om die spelers vir die groot uitdaging reg te kry.

“Dit is ’n groot uitdaging, maar ook ’n opwindende tyd vir ál die spelers.”

Gibson het gesê daar’s ’n goeie spangees en soos die geval die afgelope 18 maande was, is daar ’n positiewe gevoel in die kamp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters