13 dae gelede
Promosie in sig vir Ajax
KOP SKOOT: Ajax se Eleazar Rodgers het geskitter met ’n driekuns in Ajax se sege oor TTM in die playoff-reeks.  ~ BackpagePix

DIE weerlig het Dinsdag drie keer geslaan vir Tshakhuma Tsha Madzivhandila (TTM) in die vorm van die Ajax Cape Town-veteraan Eleazar Rodgers.

Die 35-jarige striker het Ajax se aanslag op promosie lewend gehou toe hy ’n driekuns in die tweede helfte aangeteken het om TTM met 5-1 in die Bidvest-stadion kaf te draf.

Die promosie/relegasie-uitspeelstryd was die spreekwoordelike stryd van twee helftes.

Dis omdat TTM teen rustyd met 1-0 voorgeloop het nadat Thembisani Ne­vhulamba hul rekening so vroeg as die 11de minuut met ’n regtervoet-volley geopen het.

Nick Hengelman het Ajax in die wedstryd gehou toe hy Naeem Amoojee se vurige skoot van binne die doelgebied uitstekend gekeer het.

Die insluiting van Rodrick Kabwe en Dale Wakefield­ in die tweede helfte het beslis nie net geluk gebring nie, maar nuwe lewe in Ajax se spelers geblaas.

Die Kaapse span se comeback het begin toe Siphesihle Mkhize sake gelykop gemaak het ná die rustyd ná twee uitstekende saves deur TTM se goalie, Mbongeni Mzimela.

Minute later het Rodgers die Urban Warriors se neuse voorgesit ná ’n goeie aangee deur Cohen Stander vanaf die linkervleuel.

Rodgers het in die 53ste minuut weer toegeslaan om Ajax se voorsprong te vergroot ná nog ’n cross deur Stander van die linkerkant af.

Chumani Butsaka het Ajax se voorsprong op die uurmerk vergroot met kliniese afronding van binne die doelgebied ná goeie werk deur Wakefield.

Rodgers het sy driekuns voltooi toe hy sukses behaal het vanaf die strafkol.

Ajax gee nou weer die pas aan op die play-offs se punteleer met ses punte en ’n beter doeleverskil van plus een oor die tweede geplaaste Black Leopards­ (ook ses punte).

Dit beteken hulle sal Leopards Vrydag móét klop om hul voorsprong te behou en dan moet hulle hoop Leopards val vas in hul laaste wedstryd van die reeks op 21 September teen TTM.

Volgens Calvin Marlin, Ajax se breier, is hy baie trots op sy jongelinge wat hy ná die rustyd ingespan het.

Ommeswaai

“Ek was in die eerste 45 minute besig om my hare uit my kop te trek. Ek het hulle behoorlik uitgetrap.

“Ek moet nou erken dit was verblydend om te sien hoe hulle ’n ommeswaai gemaak het.

“Die jong spelers soos Dale en Chumani het beslis hand opgesteek. Ons volgende stryd teen Leopards is massief en ons sal ’n positiewe result moet kry.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters