15 dae gelede
Prinsloo breek ’n rekord in Amerika
Francois Prinsloo  ~ Rodger Sedres

’N TIENER van Worcester het ’n Amerikaanse rekord in die diskusgooi verpletter.

Die 19-jarige Francois Prinsloo jnr. het met ’n gooi van 65,85 m vorendag gekom om die vorige rekord van 63,34 m met ’n meter en ’n half te oortref.

Die ou rekord is reeds in 2014 op die National Collegiate Athletic Association-byeenkoms (NCAA) opgestel.

Die byeenkoms is in die Hodges-stadion in Jacksonville, Florida, gehou.

Prinsloo jnr. het in 2019 aan die Worcester Gimnasium gematrikuleer.

Sy pa is oorspronklik van Steynsrus in die Vrystaat en sy ma, Florence, van Kenia. Hy is in Kenia gebore, maar was nog baie jonk toe die gesin na Suid-Afrika verhuis het. Prinsloo snr. het aanvanklik sy seun afgerig, maar Kaai Preller het later by hom oorgeneem. Hy het Prinsloo sr. ook in ’n stadium afgerig.

Toe Prinsloo jnr. in gr. 11 was, was hy die Afrika-jeugkampioen in die o. 18-groep vir diskusgooi en later in die o. 20-ouderdomsgroep.

Hamergooi

Hy was hierna ’n lid van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Jeug-Olimpiade in Argentinië deelgeneem het. Dis daar waar die Universiteit van Suid-Alabama hom genader het.

Prinsloo is tans 14de op die wêreldranglys vir diskusgooi.

Hy is ook baie goed in gewigstoot en hamergooi.

Luidens die Universiteit van Suid-Alabama se webtuiste is Prinsloo jr. tans die beste atleet in die liga.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters