16 dae gelede
Portugal wen nog ’n trofee
YSTER: Cristiano Ronaldo vermag nog sukses met Portugal met die Uefa Na­tions League-titel.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

CRISTIANO Ronaldo sê dis ’n “ongelooflike eer” om die eerste Uefa Nations League-titel te wen, veral omdat dit voor sy tuisskare gedoen is.

Portugal het Nederland Sondag in die Estádio do Dragão in Porto met 1-0 in die final geklop.

Gonçalo Guedes het die wendoel op die uurmerk aangeteken om die Europese kampioen nog sukses te gee om te vier.

“Dis ’n uitstekende prestasie en ek is so gelukkig,” het CR7, soos Ronaldo genoem word, gesê. “Dat ons dit voor ons tuisskare gedoen het, is ’n ongelooflike eer. Die mense van Portugal verdien dit. Hulle het ons van die begin ondersteun, en weer in die final.

Rooskleurig

“Die trofee behoort aan hulle. Dis nie net vir die spelers nie, maar vir die hele Portugal,” het die Juventus-talisman bygevoeg.

Ronaldo beweer die nuwe jong opkomende talent in Portugal se span beteken hulle toekoms lyk baie rooskleurig.

“Die span sal voortgaan, met of sonder Cristiano Ronaldo. Ek dink die span het ongelooflik baie potensiaal.

“Die spelers is nog jonk en sal deur die jare beter en meer volwasse word.

“En ek wil deel wees van die projek. Ek voel goed en voel ek wil die nasionale span help.

“Ek dink die span het die potensiaal om te groei en meer trofeë te wen,” het dievyfmalige Ballon d’Or-wenner afgesluit. – Fifa.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters