4 dae gelede
Popeye was Saru se beste
KRAGMAN: Ebrahim “Pop­eye” Rinquest  ~ ADNAAN MOHAMED

HY VERDIEN sy staanplek as een van die beste stutte en leiers van sy generasie.

Volgens die rugbyhistorikus Hendrik Snyders was Ebrahim “Popeye” Rinquest een van die laaste van 13 swart rugbykapteins wat nog lewend was. Rinquest is gister in die ouderdom van 86 oorlede.

Die legendariese Rinquest word nie net as een van die beste stutte beskou wat die destydse Saru opgelewer het nie, maar hy was veral bekend vir sy puik leierseienskappe.

“Popeye, of Fattas soos ons hom ook geken het, was letterlik die laaste van die Coloured Rugby Board se kapteins voordat dit na Saru verander het,” het Snyders gister gesê. Hy was ook die kaptein toe die destydse Kleurling-rugbyspan vir die enigste game in ’n bitter stryd teen die Federasie-span gespeel het.”

Die kragman het in sy speeldae Hamediehs aangevoer en die span tot baie WP-titels gelei. Hy het later dié span afgerig.

Rinquest het in 1949 op die ouderdom van 13 jaar begin rugby speel.

Meneer Effendi, een van sy onderwysers by die Laerskool Chapel Street in Distrik Ses, het hom die spel geleer en die grondslag vir sy loopbaan gelê.

In dieselfde jaar het hy juniors vir Caledonian Roses gespeel en later vir Crusaders en Hamediehs uitgedraf.

Rinquest het eers in Groenpunt begin sokker speel. In sy eerste keer op ’n sokkerveld het hy ’n jong seun se been stukkend geskop. Hy is toe lewenslank uit sokker geskors.

Die Rinquest-familie het ’n lang verbintenis met die Hamediehs, wat in 1895 gestig is. Rinquest se oupa was ’n ondervoorsitter van Hamediehs in 1932 toe die span vier Rinquest-broers in sy geledere gehad het.

In 1956 het Popeye as 21-jarige stut vir die eerste keer die WP-span onder die kapteinskap van Noortjie Khan (Roslyns) verteenwoordig.

In 1957 het hy vir die seëvierende WP-span in die Rhodes Cup in Kimberley gespeel en is toe vir die eerste keer vir Saru gekies. In 1965 is hy aangestel as kaptein van die Saru-span.

Die strokieskarakter Pop­eye was veral bekend vir sy sterk voorarms wanneer hy spinasie geëet het. Rinquest was nie net bekend vir sy ongelooflike krag nie, maar hy het ook ’n besondere skrumtegniek gehad.

Volgens Rinquest is hy dié bynaam gegee omdat hy sy een oog toegeknyp het wanneer die son direk in sy gesig geskyn het.

Rinquest se mede-spelers het hom egter as ’n baie beskeie persoon beskryf.

Die oud-spelers sê Rinquest se reputasie as stut was altyd om van meet af sy stempel in die eerste skrum af te druk. Hy het nie net sy opponent fisiek oordonder nie, maar sommer in die eerste skrum met ’n blitsvinnige opstopper gewys wie is baas.

En dís waarom hy Popeye gedoop is.

POPEYE SE NASIONALE LOOPBAANSTATISTIEKE – DEUR HENDRIK SNYDERS

8 Augustus 1959 vs SA African Rugby Football Board XV Green Point Track, Kaapstad

5 Oktober 1957 vs SA African Rugby Football Board XV, Port Elizabeth Show Grounds

12 September 1959 vs SA African Rugby Football Board XV, Western Native Township Oval, JHB

29 Julie 1961 vs SA African Rugby Football Board XV, Green Point Track, Kaapstad

14 September 1963 vs SA African Rugby Football Board XV, Green Point Track, Kaapstad

3 October 1964 vs SA African Rugby Football Federation XV, Green Point Track, Kaapstad

4 September 1965 vs SA African Rugby Football Board XV, Green Point Track, Kaapstad

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters