9 dae gelede
Pollard dra 10 teen Kiwi’s
Foto:  ~ 

NÁ NET een toets terug in die Springbokbeginspan se nr. 10-trui gaan Elton Jantjies dalk die trekpas kry.

Jantjies is op losskakel terug­gebring vir Saterdag se krag­meting teen die Wallabies in Brisbane omdat Handré Pollard in die vorige twee toetse teen Argentinië nie die mas opgekom het nie. Die Bokke het steeds ’n nederlaag van 18-23 gely.

Pollard het met sy stelskopwerk gesukkel. Dit het ook die res van sy spel as die Bokke se generaal negatief beïnvloed.

Jantjies het nie die perfekte vertoning gelewer nie, maar baie beter as Pollard gevaar – veral met sy stelskopwerk.

In toetse is dit ononderhandelbaar dat ’n losskakel ten minste met sy korrelwerk pale toe akkuraat is.

Rassie Erasmus, die Springbokafrigter, het gister op ’n nuuskonferensie in Wellington, Nieu-Seeland, aan verslag­gewers gesê Jantjies gaan waarskynlik Saterdag van die plaasvervangerbank teen die All Blacks aan­gewend word.

“Ons gaan Pollard dié naweek waarskynlik weer op losskakel inspan.

“Ons kan Elton die laaste 20 minute gee. Anders sal ons World Cup toe gaan met net die een losskakel waarin ons vertroue het.”

Beauden Barrett, die ster-losskakel van die All Blacks, gaan vir die game­ in die Westpac-stadion in die nr. 10-trui terugkeer.

Hy is ’n blaaskans gegee vir laas week se toetssege van 46-24 oor Argen­tinië.

Richie Mo’unga het toe in die beginspan en in die nr. 10-trui sy All Black-buiging gemaak.

Oor die Springbokke se keuse van losskakel vir Sater­dag se toets in die Rugby Cham­pionship het Barrett gesê: “Elton is ’n baie vaardige speler.

“Hy is ’n linkerpoot wat die diepte af­wissel waarmee hy speel.

“Somtyds speel hy diep; somtyds ontvang hy die bal op die voordeellyn.

“Handré hou daarvan om die voordeellyn aan te val. Hy is ’n baie goeie baldraer.

“Ek is nie seker wie hulle op nr. 10 gaan laat speel nie. Albei is baie goeie opsies.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters