16 dae gelede
Politiek: SA kan ly
Aleck Skhosana.  ~ Gallo Images

DIE administratiewe gemors waarin krieket in Suid-Afrika hom tans bevind, kan nog verreikende gevolge vir Krieket Suid-Afrika (KSA) sowel as die Proteas inhou.

Dit is bekend dat die Internasionale Krieketraad (ICC) nie geneë is daarmee dat regerings en ander politieke instansies by dié sport inmeng nie.

Die ICC het Zimbabwe byvoorbeeld verlede jaar geskors “weens die skending van die grondwet van die wêreldliggaam (ICC) wat geen ingryping van regerings toelaat nie”.

Omstrede

Krieket Suid-Afrika is die afgelope nege maande in omstredenheid gedompel; soveel so dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) nou ingegryp het en die beleërde KSA onder administrasie geplaas het.

Saskok se reputasie laat egter ook veel te wense oor. Wanadministrasie, korrupsie en nepotisme het sinoniem met dié omstrede organisasie geword.

Saskok het egter oor die naweek ’n skrywe, wat Son onder oë gehad het, aan die ICC gerig waarin hy vir sy wickets keer.

Aleck Skhosana, Saskok se waarnemende president, skryf: “Saskok het in geen stadium onder leiding of beheer van die minister van sport in die land (Nathi Mthethwa) of die regering van die Republiek van Suid-Afrika opgetree nie.

“Gevolglik verwerp Saskok enige bewering of insinuasie dat dié ingryping regerings­inmenging is.”

Die stelling is egter teenstrydig met ’n resolusie wat verlede Maandag op ’n raadsvergadering van Saskok geneem is en waarin dit duidelik gemaak is dat die besluit om op te tree, gevolg het op “die opdrag van die minister van sport en ontspanning dat Saskok­ moet ingryp in die aangeleenthede van KSA”.

Wat die ICC hiervan dink, sal net die tyd leer. Suid-Afrika loop dus gevolglik die werklike gevaar om deur die ICC geskors te word.

Die Proteas se mans- en vroue-, asook die SA o. 19-span sal in so ’n geval nie aan enige ICC-wedstryde kan deelneem nie.

KSA het Vrydag Saskok se besluit om hom onder administrasie te plaas, verwerp en gesê hy “stem nie saam” met die besluit nie.

Die veelbesproke forensiese verslag van Fundudzi is ook nog agter slot en grendel en bevat ook waarskynlik skokkende onthullings.

Hoe anders kan die geheimhouding daaromtrent verduidelik word?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters