10 dae gelede
Poemas veg terug vir gelykop uitslag teen Wallabies

ARGENTINIË en Australië het Saterdag die louere in ’n fisieke Drienasies-kragmeting gedeel.

Dit is toe dié twee spanne met 15-15 in Newcastle gelykop gespeel het.

Daar is geen drieë in die game aangeteken nie. Beide spanne se losskakels, Nicolás Sánchez en Reece Hodge, was in die kol met vyf strafdoele elk.

Die Wallabies het die meerderheid van die balbesit en gebiedsvoordeel in die eerste helfte geniet. Hulle het die bal deur talle fases gedra, maar het foute op kritieke tye gemaak. Dit het verhoed dat hulle meer punte kon aanteken.

Die tuisspan het by twee geleenthede gaan score, maar die TV-skeidsregter het elke keer beslis dat dit nie ‘n drie is nie.

Die Poemas het met uitstekende verdediging vorendag gekom om die aanvanklike druk van die Wallabies af te weer.

Ná ’n halfuur se spel het die Suid-Amerikaners die voortou geneem met twee suksesvolle strafdoele deur Sánchez. Sy eweknie van die Wallabies, Hodge, was egter in die kol met drie strafdoele van sy eie, wat sy span met die rustyd net-net met 9-6 laat voorloop het.

Vir Australië was die skrumskakel Nic White bedrywig agter die oond. Die buitesenter Jordan Petaia het ook gevaarlik gelyk wanneer hy in besit gestel is.  Bautista Delguy, die regtervleuel van die Poemas, het die oog gevang met sy dartellopies.

Michael Hooper, kaptein van die Wallabies, het agterna gesê sy span was nie akkuraat genoeg in hul uitvoering nie.

“Ons het vir gebiedsvoordeel gespeel en het oorgenoeg balbesit gehad. Ons het onsself ook skuldig gemaak aan te veel los aangeë en was ongelukkig nie akkuraat genoeg nie. In die tweede helfte het ons dissipline ons duur te staan gekom. Dit het die Poemas toegelaat om in die game terug te kom.

“Hulle moet krediet kry vir hul verdediging, want hulle het ons geen deurkomkans gegun nie,” sê Hooper.

Pablo Matera, kaptein van die Poemas, was vol lof vir die manier hoe sy span teruggeveg het.

“Ons het baie min balbesit gehad en min kanse gekry om drieë te druk. Met 20 minute speeltyd oor was ons met 9 punte agter. Ons het egter baie geloof in ons stelsel. Australië was baie fisiek, maar ons verdediging was puik. Die manne het tot die einde geveg,” sê hy.

puntemakers

WALLABIES - strafdoele: Reece Hodge (5)

POEMAS - stradoele: Nicolas Sanchez (5) 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters