2 maande gelede
Poemas skok All Blacks
rugby,pumas
Die Poemas het die magtige All Blacks vir die eerste keer in 30 probeerslae geklop en hulle het dit ten volle verdien. FOTO: Getty Images  ~ 

DON’T Cry for me Argentina! Viva Los Pumas.

Die grootste oomblik in Argentinië se rugbygeskiedenis het Saterdag teen alle verwagtinge in gekom.

Dit is toe die span van Argentinië met ’n epiese Drienasies-oorwinning van 25-15 oor Nieu-Seeland in Sydney vorendag gekom het.

Die Poemas het die magtige All Blacks vir die eerste keer in 30 probeerslae geklop en hulle het dit ten volle verdien.

Niemand in hul wildste drome het dié uitslag verwag nie. Wat die sege net meer merkwaardig maak is omdat die Argentyne sedert laas jaar se World Cup in Japan nog geen toetsrugby gespeel het nie.

Die manne van Suid-Amerika is twee maande in Australië en het tot dusver net twee opwarmingswedstryde gespeel. Daarteenoor het Nieu-Seeland reeds vyf toetse agter die blad.

Ian Foster, die All Black-coach, het Saterdag sy tweede agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se Drienasiesreeks gely. Laas week het die manne in swart 22-24 teen die Wallabies in Sydney verloor. Die All Blacks het boonop vir die eerste keer sedert 2011 twee toetse agtereenvolgens verloor.

Mario Ledesma, afrigter van die Pumas, het een van die grootste opskudding in die geskiedenis van rugby gesorg.

Die Argentynse losskakel, Nicolas Sanchez, was op sy stukke. Hy het al sy span se punte aangeteken.

Die Poemas se skittersege kan nie net aan hul ongelooflike verdediging toegeskryf word nie, maar hulle was boonop uiters fisiek, slim en akkuraat in hul uitvoering. Hul pak voorspelers het die All Blacks ontsenu en sodoende van stryk af gebring.

Daarteenoor was die All Blacks uiters swak.

Pablo Matera, die emosionele kaptein van Argentinië, het agterna die gees en karakter van sy span geprys.

“Vandag is ’n groot dag vir Argentynse rugby,” het hy agterna aan Fox gesê.

“Daar is baie manne wat voor ons die trui gedra het en kliphard gewerk het. Die oorwinning is ook vir hulle en almal in Argentinië. Ons is gewoond aan swaarkry in Argentinië.

"Ons land gaan tans deur ’n baie moeilike tyd. Ons wou ons mense wys dat wanneer as jy veg en hard werk, word jy daarvoor beloon. Dit was ’n great effort van al ons manne. Ons was baie gedissiplineerd en het hard getackle. Ons wou net ons land trots maak,” het hy bygevoeg.

Dié nederlaag is 'n ernstige stap terug in die verkeerde rigting vir Foster en sy manne. Die gedugte All Blacks het vanjaar nou meer slegte as positiewe gehad. Daar gaan in Nieu-Seeland selfondersoeke moet plaasvind. 

Foster se vermoë as coach gaan opnuut bevraagteken word.

ALL BLACKS – drieë: Sam Cane, Caleb Clarke. doelskop: Richie Mo’unga. strafdoel: Mo’unga.

POEMAS – drie: Nicolas Sanchez. doelskop: Sanchez. strafdoele: Sanchez (6).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters