7 dae gelede
Poemas sál dié keer edge bring
SCOTT BARRETT  ~ _GETTY IMAGES

DIE Nieu-Seelandse slot Scott Barrett het sy spanmaats gewaarsku om gereed te wees vir ’n groot aanslag van Argentinië in Saterdag se kragmeting in Brisbane.

Die All Blacks het die Poemas Sondag in die stad Gold Coast met 39-0 geklop.

Halfpad deur die Suide­like Halfrond se kompetisie het die manne in swart hul greep op die eerste plek op die punteleer versterk.

Argentinië het nou drie nederlae in ’n ry gely en is tans in die laaste plek op die log.

Barrett glo egter die Kiwi’s kan nie bekostig om die Argentyne ligtelik op te neem nie.

“Hulle gaan Saterdag ’n ander span wees,” het hy gister in ’n video-oproep aan verslaggewers gesê.

“Ons verwag dat hulle aansienlik meer gemotiveerd gaan wees ná hul vertoning van laas week.”

Verdedig

Die All Blacks het oortuigend gewen, maar Barrett glo daar is ruimte vir ver­betering.

“Ons het ’n plan, maar ons sal moet aanpas by hoe hulle verdedig. Ons kan ook nie bekostig om op hul groot, lang mans te probeer spring nie,” waarsku hy.

Die All Blacks verkeer nog onder streng Covid-19-beperkings. Hulle het egter ’n voorsmakie van vryheid op die strande van die Gold Coast-oord geniet.

Intussen bly die stad Auckland nog onder streng Covid-inperkings.

Die All Black-haker Codie Taylor sê dit gaan goed met sy vrou en kinders by die huis. Hy is egter bekommerd oor sy ma en bel haar gereeld om te hoor hoe dit met haar gaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters