2 maande gelede
Poemas is ’n ‘ernstige bedreiging’
Michael Cheika  ~ Gallo Images

NED Hanigan, losvoorspeler van die Wallabies, beskou Argentinië as ’n ernstige bedreiging in Saterdag se Drienasies-kragmeting in Newcastle.

Die Poemas het die All Blacks laas week vir die eerste keer in 30 probeerslae geklop.

Die Argentyne het die voormalige Wallabies-mentor Michael­ Cheika as afrigting-konsultant ingespan.

Die Suid-Amerikaners se oorwinning met 25-15 oor die Nieu-Seelanders het die Drienasies-toernooi wyd oopgegooi.

Dit kom nadat die Wallabies die Kiwi’s die vorige week ook geklop het.

Hanigan het drie jaar ge­lede sy toetsdebuut vir die Wallabies gemaak toe Cheika die coach was.

Hanigan was dus beslis nie verbaas oor wat hy gesien het nie.

“As jy iemand soos Cheika in die span het, het jy iemand wat ’n baie goeie motiveerder is. Hy is goed vertroud met Australiese rugby en sal beslis Saterdag ’n groot hulp vir die Poemas wees.

Sterte

“Hy hou net van wen. Hy haat dit om te verloor,” het Hanigan gesê.

Die Argentyne, wat deur hul indrukwekkende pak voorspelers aangedryf word, het die Wallabies in die ver­lede al ore aangesit.

Met Argentinië se sterte in die lug, glo Hanigan die Wallabies sal nie kan bekostig om ongedwonge foute te maak nie, want dit sal hulle duur te staan kom.

“Hulle het ongelooflike passie en trots in hul trui. Jy kon die reaksie ná die wedstryd sien,” het hy gesê.

“Die sleutel gaan wees om hulle nie die kans te gee om energie op die veld met die bal in hand op te bou nie.

“In die laaste paar games het ons waarskynlik die bal willy-nilly weggegooi ...

“Sulke dinge laat die momentum net in die guns van die opposisie aanhou opbou.”

Dave Rennie, Australië se afrigter, se eerste keuse op nr. 10, James O’Connor, gaan waarskynlik nie vir die toets beskikbaar wees nie. Hy het nog las van ’n voetbesering.

Dié spelskepper van die Queensland Reds het die eerste twee toetse onder Rennie begin.

Noah Lolesio het sy toetsdebuut in die plek van die beseerde O’Connor gemaak.

Reece Hodge het O’Connor se stewels in die daaropvolgende toets met groot welslae volgestaan.

Gewikkel

Hodge het ’n groot rol in die Wallabies se sege oor die All Blacks gespeel.

Hy behoort dus weer Saterdag die nr. 10-trui te dra, met Lolesio wat waarskynlik van die bank af aangewend sal word.

Hodge gaan in ’n hewige stryd gewikkel wees om Nicolás Sánchez, sy ervare eweknie van die Poemas, in toom te hou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters