13 dae gelede
Poch optimisties Mpabbé weer betyds fiks
Kylian Mbappé  ~ Getty Images

MAURICIO Pochettino, die manager van Paris Saint-Germain, sê hy’s optimisties daaroor dat Kylian Mbappé weer betyds fiks sal wees.

Dít is vir die Franse kampioenspan se tweede been van die Champions League se halfeind vandag in die Etihad-stadion.

PSG sal eers ’n agterstand van 1-2 moet uitwis as hy na die eindstryd wil deurdring. Dit is waarom Pochettino ook duim vashou dat sy blitsvleuel beskikbaar sal wees vir die kragmeting teen die Cityzens.

Verhoed

Mbappé, wat al 37 doele aangeteken het, waarvan 8 in die prestigeryke klubkompetisie, het reeds ’n besering afgeskud om laas week in die eerste been in die Parc des Princes uit te draf.

’n Knaende kuitbesering het egter die 22-jarige sterspeler verhoed om uit te draf vir Saterdag se oorwinning met 2-1 oor Lens in ’n Ligue 1-wedstryd.

“Sal Mbappé daar wees? Ek is optimisties,” laat hoor Pochettino.

“Ons verwag dat hy daar sal wees, maar ons sal sien hoe sake verloop. Ons sal voor die wedstryd ’n besluit moet neem,” voeg die voormalige Tottenham-baas by.

Intussen het Manchester City se manager, Pep Guardiola, sy spelers aangemoedig om nie “skaam” te wees in vandag se tweede been op hul tuisveld nie.

“As ons gaan skaam wees en nie speel soos ons kan nie, kan hulle met die gehalte waaroor hulle beskik, ’n ommeswaai bewerkstellig,” verduidelik Guardiola.

Volgens die City-baas was sy spelers “te skaam” in die eerste helfte van die eerste been in Parys.

Dis juis waarom sy City-span ’n agterstand van 0-1 moes uitwis om te wen.

Doele deur Kevin de Bruyne en Riyad Mahrez in die tweede helfte het hulle ’n voorsprong van 2-1 besorg vir die terugkeer in vandag se been.

“As ons met die gehalte kan speel soos wat ons in die tweede helfte in Parys opgedis het, kan ons deurdring na die finaal,” voeg Guardiola by.

City, wat reeds die Engelse League Cup gewen het en een sege weg is van ’n vierde titel, sal sy voortande gee om sukses in die Champions League te behaal. AP

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters